Jaar drie se onderhoudleerders, bestaande uit 15- tot 17-jarige leerders van Jakes Gerwel Tegniese Skool, tesame met die Bonnievale-gemeenskap, het onlangs ’n vervalle sypaadjie in dié dorp so hoofstraat reggemaak.
Volgens Albert Mocke, die hoof van Jakes Gerwel Tegniese Skool, het telefonies aan die Breederivier Gazette verduidelik dit is wel ’n skoolprojek, maar dit sou nie moontlik gewees het sonder die Bonnievale-gemeenskap, wat onder andere materiaal verskaf en gehelp het met die herstel van die sypaadjies nie.
Mocke het verduidelik die skool maak geweldig staat op skenkings, buiten die finansiële steun wat die skool van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) ontvang om toerusting te skaf en die skool in stand te hou.
Daarom, het Mocke gesê, was hiérdie projek ’n “skool-en-gemeenskapsprojek”, want sonder die Bonnievale-inwoners se toegewyde ondersteuning sou die skool dit nie kon regkry nie.
Hoekom dan só ’n goedhartige taak verrig?
Volgens Mocke is dit deel van die opleiding vir jaar drie se onderhoudklas, maar ook omdat die skoolleerders die dorp waarin hulle woon, wil mooi hou om trots onder ander inwoners ook te kweek.
“Die leerders het baie hard gewerk, maar was ook baie opgewonde en trots toe hulle klaar is.
“Dit bou hul eie waarde en trots om te weet hulle het ’n bydrae tot die mooimaak van die dorp gelewer,” sê Mocke, wat bygevoeg het die skool sal sulke projekte gewis weer aanpak.
Leerders wat instandhouding as ’n vak neem, kan daarna uitsien om broodnodige vaardighede aan te leer, waaronder loodgieter-, elektriese-, verf-, teel- en plaveiselwerk.
Die Jakes Gerwel Tegniese Skool is ’n jong skool wat tans vir die sesde jaar gratis onderrig aan leerders verskaf wat hulle toerus om in ’n tegniese, vaardigheids- of landbourigting te kan werk.





