Jacques Jacobs (50), ’n Robertson-inwoner met ’n liefde vir musiek, deel dié gawe met die jeug van Robertson deur gratis musiekklasse aan te bied vir kinders van alle ouderdomme.
Dié musikant is gebore en getoë in Robertson, en het van kinderdae vele blaasinstrumente soos klarinette, tuba’s, trompette, en saksofone opgetel en nog nooit weer teruggekyk nie.
Vanaf Januarie 2023 het Jacobs, as deel van die Robertson se krismis-orkes, besluit om daagliks gratis musiekklasse aan kinders te gee. Tans is daar meer as 10 kinders van agt tot 12-jarige ouderdom wat op ’n daaglikse basis van 14:00 tot net voor 17:00 aan hul musiekvernuf skaaf en skuur.
Volgens Jacobs leer elke musiekleerder slegs een blaasinstrument aan, met die meeste van dié leerders wat geen musiekagtergrond het nie.
Hulle word dan opgelei om in die Krismis-orkes te speel en die geld wat gemaak word uit die orkesoptredes by begrafnisse, kerkdienste en ander byeenkomste, word aangewend om die instrumente te onderhou waarmee die musiekleerders speel.
“Daar is baie kinders hier [in Robertson] wat met die verkeerde goed besig is en wat nie geld het nie,” het Jacobs verduidelik.
Volgens hom is dít die rede waarom hy en die res van die krismisorkes besluit het om gratis musieklesse aan te bied en om die jeug bekend te stel aan ’n ander sy van die lewe wat ingekleur word deur musieknote.
Jacobs het ook gesê met elke oefening woon een of twee nuwe jeugdiges die musiekklasse by, wat die projek kans gee om te groei.
“’n Paar van die leerders kom en gaan ook maar, soos wat hulle in hul ou roetines terugval, maar kom meeste van die tyd weer terug [na die krismis-orkes se musieklesse],” volgens Jacobs.
Jacobs het aanvanklik as ’n klerehandelaar gewerk by ’n winkel in Robertson, maar hy het afgetree nadat hy gesondheidsprobleme opgedoen het, en speel tans net in die Krismis-band en bied gratis musiekklasse aan die jeug van Robertson.




