Jaco Louw (49), ‘n bekende inwoner van Malmesbury wat op 8 Julie sy 50ste verjaardag sou vier, is Sondagaand 29 Junie omstreeks 18:30 in ‘n motorfiets-botsing op die Klipheuwel-pad dood. Twee motorvoertuie was by die voorval betrokke.
Sy ouers, Hugo en Nelia Louw, was na Namibië onderweg toe hulle die nuus van Jaco se dood ontvang. Sy pa, beter bekend as Tappies Louw, het die volgende dag in ‘n boodskap aan familie en vriende gesê hulle bedank die Hemelse Vader wat Jaco vir 50 jaar aan hulle geleen het.
Jaco, gebore en getoë in die Swartland, was volgens sy familie lief vir mense, om tyd saam met hulle deur te bring en ander te help. “Ons het ‘n oorvloed boodskappe ontvang van mense wat getuig van sy goedheid en omgee. Hy het vriende gemaak waar hy gaan en sy roudiens is bygewoon en gestroom deur mense van alle uithoeke van die wêreld,” vertel sy suster Lorraine Simpson.
“Hy was voorwaar ‘n mense-mens wat jy wou ken. Daar was altyd ‘n glimlag op sy gesig, en sy passie vir die lewe was opmerkbaar. Deel van sy lewenspassie was om sy liefde vir sy Skepper uit te leef en uit te dra aan ander en ‘n verskil in die wêreld te probeer maak.”
ANDER INSPIREER
John Dürr, voorsitter van Malmesbury Agri, het dit goed in sy huldeblyk by die lewensvieringsdiens vasgevat met die simbool van ‘n enkele koringkorrel, soos Jaco, wat soveel potensiaal het om te vermeerder en aan te hou vermeerder. “In ‘n gemeenskap kan omgee en belangstelling in mense soos ‘n koringkorrel ‘n positiewe impak maak, bly vermeerder en so ‘n stukkie van die wereld verbeter. Ons hoop Jaco se nagedagtenis sal mense bly inspireer om koringkorrels te bly en sal omgee vir ander.”
Sy leuse vanuit sy gunstelingfliek, The Gladiator, het boonop daarby aangesluit: “What we do in life, echoes in eternity.”
“Ons as sy familie gaan hom geweldig mis, maar was geseënd en bevoorreg om hom vir bykans 50 jaar te kon ken en sy liefde en omgee te beleef.”
Hy was ook veral bekend in veiligheid- en sekuriteitskringe. Sy bydrae tot die stigting van Malmesbury Veiligheid was van onskatbare waarde. Die oudvoorsitter Uys van der Westhuijzen beskryf Jaco as ‘n pilaar van veiligheid en diensbaarheid.
“Die Swartland en gemeenskappe ver buite neem met groot hartseer afskeid van een van sy mees toegewyde leiers, Jaco Louw – ‘n man wie se naam sinoniem geword het met landelike veiligheid, diensbaarheid en onwrikbare toewyding aan sy medemens,” skryf hy in ‘n huldeblyk.
Volgens Van der Westhuijzen was Jaco veel meer as net ‘n bekende gesig in Malmesbury – hy was ‘n vertroude steunpilaar vir boere, families en gemeenskappe reg deur die Swartland. “Sy passie vir veiligheid was prakties: Hy het self die fakkel gedra; dikwels eerste op die toneel. Of dit gereën het of die son geskyn het – sy foon was nooit af nie.”
NOOIT GESKROOM
As een van die stigterslede van Malmesbury Veiligheid het sy insig en ervaring ‘n groot rol gespeel in die organisasie se suksesvolle ontwikkeling. Hy was ook aktief in ander strukture soos die Veediefstalgroep, waar sy waarskuwings “die maan is vol” gemis gaan word.
Van der Westhuijzen sê Jaco het met wysheid en vasberadenheid opgetree en nooit geskroom om besluite te neem nie. Hy het vertroue ingeboesem waar dinge onseker was en leiding gebring waar verwarring geheers het.
Paul Wiehahn, ‘n goeie vriend, vertel hoe hy die Sondagaand nog vir Jaco gewag het om te kom kuier, terwyl die nuus oor Bok Radio oor ‘n motorfietsongeluk bekend gemaak is. “Ek het hom gebel om te hoor of hy veilig is. Ek was so verlig toe hy antwoord.”
Dit was toe nooit Jaco wat geantwoord het nie, maar ‘n brandweerman op die ongelukstoneel wat aan Wiehahn die hartseer nuus moes breek. “Ek is bly hy het nie pyn gehad nie,” voeg Wiehahn by.
Hy meen Jaco laat ‘n groot leemte.
Jeremy Monk, nog ‘n goeie vriend, sê hulle het mekaar gedurende ‘n tydperk ontmoet waartydens albei deur moeilike tye gegaan het. “Ons het vinnig bevriend geraak. He was my brother from another mother.”
Volgens Monk het hulle dieselfde belangstellings gedeel en baie tye saam op die plaas, in hul viertrekvoertuie of in sy werkswinkel geniet. Jaco was ook ‘n kampliefhebber wat graag sy passie vir kamptoerusting met Monk gedeel het.
- ‘n Gedenkdiens ter viering van Jaco se lewe is Vrydag 4 Julie in die Swartland NG Moedergemeente in Malmesbury gehou.
- Hy laat sy dogter, Kayla (16), sy pa, Hugo, ma, Nelia, en twee jonger susters agter.





