Van links staan Truter de Kock, die landbouminister, dr. Ivan Meyer, en Richard Hewett.


Dr. Ivan Meyer, die minister van landbou in die Wes-Kaap, het die afgelope Woensdag (19 April) lede van Agri Malmesbury moed ingepraat en uitgebrei oor wat dié plaaslike regering vir die boere in die provinsie beplan.

Die geleentheid het gedurende Agri Malmesbury se jaarvergadering plaasgevind waartydens John Dürr, ’n bekende in die plaaslike landboukringe, ’n spesiale toekenning ontvang het. Dürr het sy meer as 40 jaar se diens en betrokkenheid by die plaaslike landbouvereniging as ’n voorreg beskryf en gesê sy passie is steeds ná soveel jaar by georganiseerde landbou.

Meyer was dit eens dat landbou-instellings soos landbouverenigings vir hom baie belangrik is, maar in die algemeen is dit nodig vir landbou se voortbestaan. “Dit is instellings soos dié wat steeds maak dat die pap nie op die grond val nie. Dit is daarom belangrik dat ons hierdie instellings respekteer,” het Meyer gesê.

Hy het ook gesê prioriteite is noodsaaklik vir sukses. “Sonder prioriteite dobber jy net op die see.”

Gestruktureerde opleiding en ontwikkeling, navorsing, ondersteuning aan boere, landelike veiligheid, marktoegang en klimaatsverandering is onder meer op sy sakelys as prioriteite.

Dit is volgens Meyer sy missie om meer landbouskole in die Wes-Kaap te sien. “Landbou is ’n werkwoord. Die land moet weer herbou word en meer landbouskole gaan ons in staat stel om dit te doen.” Meyer het gesien landbouskole bring dissipline en opvoeding onder kinders terug, en anti-sosiale optrede onder leerders in landbouskole het afgeneem. Volgens hom is hy al verstom deur leerders wat op ’n Saterdag eerder wil sweiswerk doen, het hy verbaas vertel. “Landbou bou ook ’n mens,” het hy gesê. Volgens hom is landbou die enigste sektor in die land met die vermoë om die land te herbou.

Hy het verder gesê landbou is ’n wetenskap en wetenskap moet nagevors word. Daarom is Meyer verheug oor die altesaam sewe navorsingsplase in die Wes-kaap, waarvan die Langgewens-navorsingsplaas buite Malmesbury een is. Hy het ook Uys van der Westuijzen bedank vir wat hy in landelike veiligheid doen – nie net binne sy streek nie, maar vir die hele land.

Van der Westhuijzen is die voorsitter van Malmesbury Veiligheid asook die voorsitter van beide Agri Wes-Kaap se landelike veiligheidbeleidskomitee en Agri SA se sentrum vir uitnemendheid oor landelike veiligheid.

Die minister kon verder nie genoeg vertel hoe trots hy op die boere in die Swartlandstreek is nie. “Dit is ongelooflik om te sien wat hier gebeur.”

Meyer meen wanneer landbou in die nood is, moet die regering na vore kom en help, want die landbousektor help die land. “Die burgers van die land moet begin besef dat ’n boer jou vriend is. As jy nie na ’n boeregemeenskap kyk nie, kom die regering tot ’n val.” Daarom het Meyer met trots die #fortheloveofagriculture geskep sodat inwoners kan besef die land kan nie sonder landbou voortbestaan nie.

Lede het ná die minister se toespraak gesê hulle is opgewonde oor wat hier in die Wes-Kaap vir landbou aan die gebeur is. Volgens Richard Hewett, die nuutverkose voorsitter van Agri Malmesbury, moet boere geëerd voel om in die provinsie te kan boer. “Ek dink ons kan positief wees.”

Hentie Smit is saam met Hewett as ondervoorsitter verkies en Eben Schellenk, Michiel Smuts, Thys Basson, Janus le Roux en Truter de Kock as die vyf addisionele bestuurslede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article