’n Groep inwoners van die Robertson-omgewing meen elkeen in die omgewing moet hul deel doen eerder as om net op sosiale media kla.
Die #WeTakeAction-groep van Robertson is deur Nthando Zuli en haar dogter, Lali, geskep en fokus daarop om bewusmaking oor rommelstrooiery in die Robertson-omgewing te skep.
Nthando, ’n huisvrou en inwoner van Nkqubela, vertel aan Gazette hoe sy eendag wakker geword en besluit het “genoeg is genoeg”.
“Ek woon al sewe jaar in hierdie omgewing. Ek is amper daagliks by die huis en sien hoe mense hul papiere sommer net op die grond neergooi. Dit het my laat dink dat ’n mens bewusmaking moet skep, anders, wat gaan ons kinders eendag oorhê?”
Zuli het in 2021 ’n WhatsApp-groep gestig en ’n paar inwoners daarop genooi. Hierop is wenke gedeel oor hoe om die omgewing skoon te hou, asook uitnodigings gestuur vir nog vrywilligers om aan te sluit – mense wat werklik ’n verskil wil sien en wil maak.
“Ons groepie het vinnig gegroei – tot so 14 mense. Dit klink dalk min, maar dit maak ’n verskil. Ons almal haat gemors en vullis. Dit is sleg om in so ’n mooi plek te bly waar die strate vuil is en oral waar ’n mens loop en ry, gemors sien,” voeg Zuli by.
Zuli en haar span probeer een keer per maand ’n gebied of straat te teiken om daar skoon te maak. Hulle doen dit gewoonlik oor ’n naweek en probeer dan kinders betrek.
“As ’n mens die gewoonte van jongs af kweek, sal baie kinders dalk eerder kies om nie rommel te strooi nie, en só werk ’n mens na ’n punt toe waar almal rommelvry kan leef.”
’n Soortgelyke inisiatief is in 2019 in Droëheuwel probeer – in nog ’n gebied in Robertson wat onder rommel gebuk gaan. Ongelukkig, vertel inwoners, sukkel hulle steeds hier.
“Ons omgewing is ’n oogseer. Niemand wil so woon nie. Ons betaal elke maand baie aan belasting en ander rekeninge, maar dit voel niks word gedoen nie,” vertel Martha Matjies aan Gazette.
Talle wend hulle ook tot sosiale media om hul misnoeë uit te spreek oor veral die dorp se probleem met vullis en rommel. Zuli se mening verskil egter: “Ja, die munisipaliteite moet ’n diens lewer, maar so ook moet ons mense inlig om in die eerste plek nie rommel te strooi nie. Ons moet ons kinders wys dat dit harder werk verg om agterna skoon te maak eerder as om dit permanent skoon te hou. Vullis is oral ’n probleem – oor die hele wêreld – maar as elkeen voor sy eie stoep vee en optel, maak dit die munisipaliteit se las minder en gee dit hom kans (en geld) om op ander projekte te fokus en ons omgewing is skoon. Dit is ’n wen-wen. Koppel dit aan onderrig oor rommelstrooiery en die uitwerking wat dit het, en oor vyf of 10 jaar sal ons die vrugte daarvan pluk,” sê Zuli.. Gazette het navrae aan die Langeberg-munisipaliteit rakende die rommelprobleem in die gebied gerig, maar het teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.




