Foto ter illustrasie. Foto: Pixabay


Inwoners van Kalbaskraal het hul misnoeë uitgespreek nadat hulle gesien het dat ’n werker by die plaaslike vullis-oorlaaistasie sonder enige vorm van skuiling of geriewe sy verpligtinge moes uitvoer.

Volgens inwoners het die werker op 10 Mei in gietende reën steeds voortgegaan om sy werk te doen sonder die nodige infrastruktuur.

Inwoners het vinnig hul ongelukkigheid oor die werksomstandighede, wat na bewering “onmenslik” is, op verskeie plaaslike WhatsApp-groepe gedeel.

Die klagtes is kort daarna onder die Swartland-munisipaliteit se aandag gebring.

Die Swartland-munisipaliteit het in kommentaar verduidelik dat die stasie in Kalbaskraal slegs ’n oorlaaistasie en nie ’n stortingsterrein is nie.

“Die vullis word van hier af vervoer na die Highlands-stortingsterrein.

“Die vullisverwydering in Kalbaskraal word uitgekontrakteer aan ’n diensverskaffer,” het die munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, gesê.

Die nuwe kontrak het op 1 Mei 2024 begin met ’n nuwe diensverskaffer.

“Die persone wat in diens geneem word, werk dus vir die diensverskaffer en nie vir die munisipaliteit nie.”

Daar word van die kontrakteur verwag om die nodige geriewe daar te stel.

Die nodige infrastruktuur is oor die naweek van 11 Mei geïnstalleer en met die munisipaliteit se besoek twee dae later was daar toiletgeriewe asook ’n klein waghuisie voorsien.

“Die vorige kontrakteur moes eers sy toerusting verwyder, waarna die nuwe kontrakteur sy toerusting op die betonblad kon plaas,” het Scholtz bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article