Andries (41) en Frik de Beer (69) Foto:


Frik de Beer (69), ’n emeritusprofessor by Unisa, geniet sy aftrede in Malmesbury en spog dat daar nog nie een vervelige oomblik was sedert hy en sy vrou, Linda, ses jaar gelede na die Swartland verhuis het nie.

Dit is ook hier waar hy sy eerste memoire, Die gestaltes wat in ons aanwesig is: Wording van ’n bleek Afrikaan, die lig laat sien het.

De Beer het die boek gedurende die Covid-19-tydperk begin skryf, maar vertel dat die saadjie jare gelede reeds geplant is. Dit was in 2011 in Malta waartydens die boek gestaltes begin aanneem het. Hy het daar besluit om eendag sy lewenservaring van die Suid-Afrikaanse politiek sedert 1960 neer te pen. “ ’n Vriend van my het gevra dat ek moet kom vertel oor my belewenisse van Apartheid. Terwyl ek aan die lesing gewerk het, het ek gedink hoe dit vir my was. Ek het besef ek wil vir myself, vir my kinders en my kleinkinders die geskiedenis uit ’n persoonlik beleefde oogpunt skets,” verduidelik hy.

De Beer sê die boek is gebaseer op ware ervaring wat subjektief is.

Die pa van drie en oupa van ses brei verder uit en vertel dat sy pa ook ’n rol in die skryfproses gespeel het. “My pa was ’n goeie genealogiese navorser wat my familiegeskiedenis nagevors het vanaf die stamvader net nadat Jan van Riebeek hier aangekom het tot die familie in Garsfontein en Randfontein,” vertel hy trots. De Beer se navorsing het hom ook na sy eie voorgeslagte se agtergrond geneem waar hy op waardevolle inligting afgekom het.

Hy verwys na die pa-en-seun ervaringe en bieg dat ook hy en sy pa veral oor politiek kon vassit. Hulle het gedurende die skryf van die boek aan persoonlike kwessies gewerk en uitgewerk. “Die vraagstukke het soort van ’n oplossing gekry in die skryf. Ek is net jammer hy is nou dood; nou kan ons nie meer praat oor daardie goed wat gekrap het nie. Dit is nou verby.”

Hy meen mense wat eenderse ervaringe beleef het, sal aanklank vind by die boek. De Beer hoop dat jonger mense ook die boek sal lees en verstaan waar sy generasie vandaan kom wat bevoordeel is deur die ou bedeling.

Geskiedenis was nog altyd sy passie. Hy was veral gaande oor sy ouma se stories van die Anglo-Boereoorlog waar sy ’n inwoner van ’n konsentrasiekamp was. “Sy het ’n broer gehad wat ’n Bittereinder was en my oupa het teen die rebelle uitgery. Dan wonder ek wie was die verraaier en wie was die vasbyter, en dit trek deur na mense van hier en oorsee is. Is hulle verraaiers of bittereinders in die sin dat hulle in ’n nuwe wêreld ’n lewe gemaak het?” verduidelik De Beer, wat min dinge as net wit of swart beskou. “Mense moet probeer verstaan en leer uit die geskiedenis.”

In die boek word die kerk, taal en die belangrikheid van familie, liefde en vrede ook aangeraak.

Volgens die legendariese skrywer Johan Bakkes was dit ’n heerlike leeservaring. “Die boek is besaai met humor, selfspot en egtheid.”

Hoewel dié voormalige hoof van ontwikkelingstudies verbonde aan Unisa in Johannesburg steeds promotor van ’n paar doktoraal-studente in sy vrye tyd is, geniet hy dit om oupa te wees en sy omgewing om hom te geniet. “Hier is so baie om te doen.”

Belangstellendes kan ’n boekbekendstelling deur De Beer en Daniel Hugo op 16 Mei by die Bôrdienghuis in Wellington bywoon.

Sy seun Andries (41) is boonop ook die nuwe eienaar van sy eie digbundel. De Beer jr. van Durbanville het reeds van ’n baie jong ouderdom af gedigte geskryf, vertel sy pa trots. Soos De Beer het sy seun hom ook in vreemde waters, weg van die akademiese rigting, bevind, sy digbundel gepubliseer en ’n kleintyddroom verwesenlik. Die digbundel, Aalmoes vir die Bootsman, en De Beer se memoire het vroeër in Maart vanjaar op die rakke verskyn.

Frik en Andries het in 2023 die 7de uitgawe van Community development in the 21st century: Empowerment for breaking the cycle of poverty as redakteurs voltooi.

Albei boeke is deur Turksvy uitgegee, maar kan bestel word by Andries (debeer.m.a@gmail.com) en Frik (frederikdebeer1@gmail.com).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article