Die polisie het Vrydag (17 Februarie) op onwettige kreefsterte ter waarde van byna ’n halfmiljoen rand beslag gelê danksy suksesvolle samewerking tussen die Swartland-munisipaliteit se K9 honde-eenheid en lede van Malmesbury Veiligheid.
Die munisipale honde-eenheid en Malmesbury Veiligheid het spoedig reageer nadat ’n leidraad in verband met ’n verdagte voertuig ontvang is. Die voertuig was volgens inligting op pad na Malmesbury in die rigting vanaf Hopefield.
Volgens ’n verklaring, wat deur die Swartland-munisipaliteit uitgereik is, is uiteindelik suksesvol op ’n kreefvonds toegeslaan.
Die verdagte voertuig is op die N7-snelweg naby Bokomoweg in Malmesbury voorgekeer, waarna verdere ondersoek ingestel is. Die voertuig is deur die munisipale K9-eenheid deursoek en meer as 20 sakke vol kreefsterte is gevind. Dié sakke het uiteindelik oor die 4 000 kreefsterte met ’n geskatte straatwaarde van R412 600 opgelewer.
Die verdagte is op aanklag van die onwettige besit van kreef in hegtenis geneem.
’n Klagte is by Malmesbury-polisiekantoor aangemeld, terwyl die verdagte na verneem word binnekort in die landdroshof in Malmesbury sal verskyn.




