Só lyk een van die BM se netjiese nuwe sypaadjies in sy infrastruktuur-verbeteringsprojek. Foto:

Credit: SYSTEM

Verbeterde paaie en stormwater-infrastruktuur asook die bou van sypaadjies – dít in ’n neutedop is die Bergrivier-munisipaliteit (BM) se grootste kapitaalprojek vir die 2021-’22- boekjaar.

Dit word teen ’n koste van R12,42 miljoen in die onderskeie dorpe in die munisipale gebied se laekostebehuising-woonbuurte gedoen.

Volgens die BM se kommunikasieafdeling is die projek byna afgehandel.

Kragtens die grondwet is die voorsiening van behuising ’n funksie van die nasionale en provinsiale regering. Finansiering, wat uit hierdie sfere van die regering ontvang word, het in die verlede nie voldoende voorsiening gemaak vir geplaveide sypaadjies en die opgradering van paaie in die meeste plaaslike behuisingsprojekte nie.

Finansiering deur die munisipaliteit se infrastruktuurtoekennings­program (MIG) is egter onlangs aan die BM beskikbaar gestel om die infrastruktuur in hierdie gemeenskappe te verbeter.

Volgens Rohann Stander, bestuurder van die BM se projekbestuurseenheid, baat ongeveer 844 plaaslike huishoudings (ongeveer 4 220 inwoners) uit hierdie projek. “Die opgegradeerde padoppervlakte en sypaadjies sal voetgangerverkeer verbeter, en toegang tot aanbiddingsplekke, skole en kommersiële gebiede verbeter – veral vir mense met gestremdhede,” het Stander gesê.

Die werk wat tans in die verskillende dorpe gedoen word, sluit in: . Aurora: R1 miljoen (ongeveer 340 m se geplaveide sypaadjies). Eendekuil: R2 miljoen (ongeveer 740 m se geplaveide sypaadjies);. Piketberg: R3 miljoen (ongeveer 1 301 m) se geplaveide sypaadjies);. Porterville: R1,5 miljoen (ongeveer 559 m se geplaveide sypaadjies);. Porterville: R927 127 (paaie en stormwater-infrastruktuur in Smitstraat, Porterville-Suid);. Redelinghuys: R1 miljoen (ongeveer 340 m se geplaveide sypaadjies); en. Velddrif: R3 miljoen (ongeveer 1 14 5m se geplaveide sypaadjies).

’n Deel van die MIG se voorwaardes vir die finansiering is dat ongeskoolde arbeid uit plaaslike laekostebehuising-woonbuurte gebruik word.

Volgens Matthew Sheldon, ’n woordvoerder van die BM, het die projek 34 tydelike werksgeleenthede vir plaaslike mense geskep.

Toekomstige fases van hierdie projek sal eers oor ’n paar jaar plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article