Baie Suid-Afrikaners, insluitend dié van die Langeberg, moet hul sente behoorlik omdraai noudat die Reserwebank die inflasie wéér met 50 basispunte verhoog het.
Hierdie inflasie-styging is volgens ekonome weens die verswakte rand, die oorlog in die Oekraïne en die alombekende beurtkrag wat Suid-Afrika se ekonomie in die donker laat.
Mense met beleggings of ’n ekstra geldjie in die spaarvarkie gaan ’n klein bietjie meer rente verdien, maar die meeste Suid-Afrikaners gee een groot sug met die wete dat voedsel-, brandstof- en kragpryse sowel as paaiemente weer verhoog.
Die prys van verskeie stapelvoedselsoorte het verhoog, waaronder uie, aartappels, brood, mieliemeel, kookolie, suiker en sout. Hierdie verhogings sal ’n arm gesin van sewe se kosrekening met tot 0,9% van R5 023,95 na R5 071,59 verhoog, volgens ’n berig deur Netwerk24.
Die gaping tussen ryk en arm word ook al groter. Volgens Statistiek Suid-Afrika (SSA) bestee die armste huishoudings, wat R20 140 per jaar verdien, 50% van hul salaris aan kos, en die rykste huishoudings, wat R312 247 of meer verdien, 11% van hul inkomste aan kos.
Buiten die verskillende persentasiepunte vir kruideniersware tussen ryk en arm, ervaar die twee groepe ook ’n verskil in inflasie. Arm huishoudings ervaar ’n 11,3%-styging, terwyl ryk huishoudings ’n 6,2%-styging in inflasie beleef.
Hierdie gaping is weens armer mense wat van staatstoelaes afhanklik is wat nie saam met die inflasiekoers soos ryker mense se inkomstes eb en vloei nie.
Dit is egter moontlik dat winkels soos supermarkte en klerewinkels ’n laer wins sal aanvaar net om nie klante te verloor nie, en hul pryse so laag as moontlik sal hou, wat beursies effe kan rek.




