Van die vermoedelik gesteelde goedere wat by vermeende inbrekers gevind is. Foto: Verskaf


Misdadigers wat onlangs ’n toename in huisbrake in die omgewing van Darling veroorsaak het, is op heter daad betrap.

Huisbrake het die afgelope paar weke in Darling geweldig toegeneem, bevestig sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie.

Drie mans is Vrydagoggend (24 Mei) omstreeks 00:20 met gesteelde goedere op die perseel van ’n woning betrap. Die goedere het onder meer juwele, ’n skootrekenaar, penne en verskeie ander waardevolle eiendom ingesluit. Volgens Filander was die eienaar van die huis nie teenwoordig nie. “Die polisie, tesame met die veiligheidswagte van Dogs & All, asook lede van die Gemeenskap in Blou, was verantwoordelik vir die suksesvolle inhegtenisneming van die inbrekers.

Die verdagtes van tussen 21 en 25 jaar oud, is op die plek vir diefstal en huisbraak in hegtenis geneem, het Filander gesê.

“Die verdagtes is gereelde inbrekers en misdadigers wat ’n tydjie gelede uit die tronk gekom en ons plaaslike huisbraakstatistiek opgejaag het,” voeg Filander by. “Die verdagtes het by verskeie huise ingebreek.”

Die drie aangehoudenes het gister in die Malmesbury-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article