Kylee Goliath, Skylar Julius (6) en Lesley Engelbrecht is die trotse nuwe eienaars van hul woonstel. Foto’s: Anan Jacobs


Twee gesinne van Riverside Mews-woonstelle in Moorreesburg het verlede Dinsdag (30 Augustus) die regmatige eienaars van hul woonstelle geword.

Die Riverside Mews-woonstelle in Royalstraat is tussen 2008 en 2010 in twee dele gebou, met die oorspronklike ontwikkelaar wat 50 eenhede aan die publiek verkoop en 45 eenhede vir homself gehou het om te verhuur.

Jan Mostert, internagent by Henry’s Properties, sê destyds moes die oorspronklike eienaar R10 000 per maand in heffings betaal, maar het geweier om basiese instandhouding te doen, soos om die woonkompleks te verf en dies meer.

“Hy het ook nie ’n tien-jaar-instandhoudingsplan opgestel en nagekom nie,” sê Mostert.

Volgens hom is die eerste aanbod in 2018 op die tafel gelê vir die koop van die 45 eenhede wat nog in die besit van die oorspronklike ontwikkelaar was.

“As gevolg van die agterstallige heffingsgeld wat nooit betaal is nie, kon die koop nie deurgaan nie en is verskeie regsprosesse gevolg om dit van die vorige eienaar te eis. Nadat die heffingsgeld op datum gebring is, het die koop in 2019 deurgegaan en het die nuwe eienaar van die 45 eenhede ’n vergadering beroep waar die vorige trustees verwyder is.

“Hulle was deel van die groep wat toegesien het dat die heffingsgeld nie betaal is nie en die algemene toestand van die skema [soos verwys na die woonkompleks wat uit twee blokke bestaan] so agteruit gegaan het,” sê hy.

Nuwe trustees en ’n nuwe bestuursagent is aangestel tesame met verskeie kontrakteurs om na instandhouding om te sien, en ’n advokaat het bevestig dat die regte prosedures gevolg is.

“ ’n Nuwe tien-jaar-instandhoudingsplan is deur ’n onafhanklike party opgestel en aanvaar,” bevestig Mostert.

Volgens hom het die nuwe eienaar oor die tydperk van vier jaar R1,7m tot die skema se reserwefonds in heffingsgeld bygedra, wat uitwerk op ongeveer R40 000 per maand in teenstelling met die oorspronklike eienaar.

Maandagoggend (29 Augustus) is met inwoners van die betrokke eenhede vergader en die geldsake bespreek. Die inwoners moes ook besluit watter kwotasies hulle aanvaar met betrekking tot instandingshoudingswerk, soos die verf van die woonstelle en om dit beter teen voëls, wat nes maak en dit bemors, te beskut.

Mostert sê nadat die “foute van die verlede” in ’n groot mate reggestel is, het die eienaar te kenne gegee hy wil graag die woonstelle in sy besit aan die publiek verkoop.

“In plaas van die geleentheid eerste aan beleggers te gee, het die eienaar besluit om eerder die gemeenskap ’n hupstoot te gee deur die huidige huurders eerste opsie te gee om te koop.

Mostert sê vir sommige sal die paaiement goedkoper wees as hul huidige huurgeld, wat die skuif van huurder na eienaar net meer aanloklik maak.

Volgens Mostert het Henry’s Properties die mandaat ontvang om die verkope van die eenhede te behartig. Elke huurder is genader en die opsie van koop teenoor huur is met hulle bespreek.

“Vir elkeen wat aangedui het hulle wil koop, is gereelde bystand, hulp en raad aangebied deur die hele proses van die teken van die verkoopskontrak tot die dag van oordrag,” sê Mostert.

Kaylee Goliath en Lesley Engelbrecht was een van die gesinne wat Dinsdag amptelik die eienaars van hul woonstel geword het, en het aan Swartland Gazette vertel hulle hou baie van die veiligheid en stilte. “Noudat ons eienaars van hierdie lieflike woonstel is, sal ons veranderinge aanbring, soos om die binnemure ’n nuwe kleur te gee,” sê Engelbrecht.

Volgens hom wink nog opknappings in die toekoms en het hy ook planne vir die agterplaas.

“Ons het reeds nuwe kaste in die kombuis ingebou en ons volgende stap is om ’n hekkie aan die agterkant van ons woonstel-eenheid by te voeg,” sê Goliath.

Peter Thomas, wat ook nou die eienaar van sy woonstel is, sê hy woon nog net ’n jaar in die woonstel en voel die besluit om van huurder na eienaar te skuif, sal hom meer geld spaar. Hy sê hy is opgewonde oor die besluit wat hy geneem het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article