Die Huis Groeneweide-aftreeoord in Darling het onlangs ’n oggendtee in deftige styl aangebied nadat die hele dorp ingespan en sonder skroom ingespring het om die sitkamer, ingangsportaal, ontvangsarea en eetkamer van die aftreeoord behoorlik op te knap.

Dié opgetofde meubels en verfraaide vertrekke is onlangs aan inwoners onthul gedurende ’n gesellige High Tea, wat deur talle ondersteun is.

Die geleentheid was ’n reusesukses en kaartjies was binne oomblikke uitverkoop soos inwoners hul plek aan die tafel wou verseker.

“Die organiseerders was tot genoodsaak om nóg tafels te kry, so groot was die ondersteuning,” vertel sr. Sandra de Beer, matrone van die oord, met ’n dankbare hart.

Die geleentheid was in aanloop tot die eintlike groot vieringe van die aftreeoord se 50ste bestaansjaar op 3 November later vanjaar. As deel van die oord se groot komende viering is besluit om nuwe lewe in die aftreeoord se binnekant te blaas.

Inwoners uit alle oorde en Darling en tot Yzerfontein het bymekaargekom, koppe bymekaargesit en met die opknappingsprojek van Huis Groeneweide begin.

Hannelie Neethling, een van die organiseerders, vertel meer oor die projek en hoe hulle onder andere bestaande meubels, ou toerusting, muurrame en ornamente afgestof en soos nuut gemaak het. Rame is afgeskuur en weer vernis, die klavier is in oranje getooi, meubels het nuwe baadjies gekry en is versier en van die mure geniet ’n nuwe lek verf, om net ’n paar te noem. Talle meubels kom nou tot hul reg soos dit rondgeskuif en afgerond is, voeg sy by.

Neethling vertel verder hoe die nuwe en kleurvolle muurpapier in een van die vertrekke ’n inwoner, wat byna blind is, se dag gemaak het toe die skoenlappers daarin raakgesien kon word. Nóg ’n inwoner het ook haar dogter, wat oorsee woon, daagliks op hoogte gehou van die verwikkelinge, en sy was net so opgewonde is om dit te sien.

Neethling sê dit is nie net ’n aftreeoord nie, maar die inwoners se huis waar hulle elke dag aansit vir ete of gaste in die sitkamerarea onthaal. “Dit is hul tuiste, en ons wou dit vir hulle mooi maak,” voeg sy by.

Inwoners kan uitsien na ’n behoorlike fees van vieringe wat voorlê terwyl beplanning reeds aan die rol is vir die aftreeoord se 50ste verjaarsdag. Die oord se bestuur en organiseerders van dié afgelope geselligheid het elkeen wat betrokke was en hul tyd afgestaan het om te help opknap, bedank en die saamtrek, wat uit die boeke was, ondersteun het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article