Die Hoërskool Swartland en die Hoër Jongenskool Paarl se o.19A’s het op 30 Oktober op Swartland in Malmesbury in ’n kwarteindstryd van die Boland-krieketvereniging vir hoërskole kragte gemeet. Swartland het die loot gewen en eerste gekolf, maar drie vinnige paaltjies verloor, wat die span op 19/3 laat steier het.
Iaan Snyders en Pieter Hanekom het Swartland se kolfbeurt met goeie kolfwerk geanker. Snyders se 37 lopies van 44 balle en Hanekom se 30 van 19 balle het momentum aan Swartland se beurt gegee voordat hulle uit is. Andries Basson het ook probeer om die lopietempo te versnel, maar is vir agt lopies van 17 balle uit.
Swartland is deur Paarl vasgepen en het net 104/9 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken. Paarl is die teiken gelaat om 105 lopies vir ’n oorwinning te behaal.
Paarl het in die vroeë boulbeurte sterk druk van Swartland ondervind en hul eerste paaltjie met die telling op agt verloor. Briljante kolfwerk en goeie hardloopwerk tussen die paaltjies deur Christiaan Van Zuydan en Neil Louw het egter aansienlike druk op Swartland geplaas.
“Ons kolwers het die wedstryd goed begin en stewige vennootskappe gevorm, maar ongelukkig het hulle later paniekerig geraak en paaltjies verloor. Die boulers het uitstekend vertoon aan die begin van Paarl se kolfbeurt, maar vanggeleenthede op kritieke tydstippe verbrou en swak besluitneming het ons uiteindelik die wedstryd gekos,” het die Swartland-afrigter Wessel Van Eck gesê.
Van Zuydan het ’n indrukwekkende onoorwonne telling van 71 lopies van 47 balle aangeteken, terwyl Neil Louw ook 28 onoorwonne lopies van 29 balle bygevoeg het, wat Paarl gehelp het om die teiken van 105 maklik verby te steek met 106/1.
Volgens Johan Louw, afrigter van die Paarl, het Swartland in beide kolf- en boulwerk sterk begin. Hy het egter daarop gewys dat die wedstryd in Paarl se guns geswaai het weens verspeelde geleenthede aan Swartland se kant, wat uiteindelik die oorwinning verseker het.
Met die oorwinning het Paarl seker gemaak hy pak Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch in die halfeindronde om die Boland-skole-SA20-titel later op Bolandpark in die Paarl.



