Die nuwe Hoërskool Moorreesburg het Woensdag (18 Januarie) sy eerste leerders met die begin van die 2023- akademiese jaar verwelkom.
Na raming word ’n inname van 450 leerders vir die 2023-skooljaar verwag.
Onderrig sal vanjaar slegs aan graad 8-10 leerders verskaf word, hoewel die skool uiteindelik 1 110 leerders van gr. 8 tot gr. 12 sal kan akkommodeer, soos die Wes-Kaapse onderwysdepartement bevestig het.
Die skool beskik oor 26 klaskamers, twee gespesialiseerde kamers en ’n mediasentrum.
Die personeel bestaan tans uit 17 opvoeders en vier ondersteuningspersoneel.
Rose Ruiters is as die tussentydse kuratorhoof van die skool aangestel.
Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van onderwys, is hierdie die enigste dubbelmedium-hoërskool in die omgewing, wat onderrig in beide Afrikaans en Engels aanbied.
“Die WKOD wens die skoolgebaseerde personeel, opvoeders en die leerders ’n baie gelukkige en produktiewe 2023-skooljaar toe. Ons doen ook ’n beroep op die gemeenskap om ’n positiewe bydrae tot die skool te lewer deur sy leerders, onderwysers en die beheerliggaam te ondersteun in ons gedeelde visie van hoëgehalte-onderwys vir al die leerders van Moorreesburg,” het Hammond bygevoeg.
’n Begroting van R65,7 miljoen is vir die bou van die skool uitgesit nadat ’n stuk grond op die hoek van Landboustraat en Piketbergweg, wat aan die provinsie behoort, bekom is.
Bouwerk aan die skool het in Januarie 2021 begin en is in Augustus verlede jaar voltooi.
Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, het na afloop van die bouwerk gesê die projek het werk aan 152 werkers, 120 jeugdiges, 31 vroue en drie mense met gestremdhede verskaf. Ses nasionale jeugdiensleerders het ook aan ’n mentorskapprogram van ses maande deelgeneem.
Die departement het vroeër gesê die nuwe hoërskool is met die mees ekonomiese, duursame en lae-instandhoudingstelsels gebou.
“Die leerders van hierdie skool kan uitsien na wêreldklas-leerder- en onderrigfasiliteite, wat ongetwyfeld tot verbeterde onderwysuitkomste sal bydra,” het Simmers destyds gesê.





