Taine-Randall Booysen, die woelige losvoorspeler van Hou-blou-hou, bars weg met die bal. Sesduim se Ulfred Terblanché en Nigel Pearson probeer hom keer. Foto’s: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

MONTAGU – Die Montagu-rugbyklub swaai nou die rugby-septer op die dorp nadat hy Saterdag (17 September) sy buurman, Montagu Villagers, die tweede keer vanjaar op die King Edward-sportterrein slae gegee het.

Hou-blou-hou, soos hy algemeen bekend staan, het Sesduim (Villagers se bynaam) in ’n klipharde Grootuitdaagbeker derbywedstryd voor ’n groot geesdriftige skare toeskouers met 11-6 ore aangesit.

Hou-blou-hou, wat vanjaar bo verwagting goed in die Grootuitdaagbekerkompetisie in die Breë-Langebergafdeling vaar, het die enigste drie in dié kragmeting, wat deur ’n lae telling gekenmerk is, gedruk en was rustyd 8-3 voor.

Dit was grotendeels ’n gelykopstryd met hewige inklimspel van al twee spanne.

Sesduim het met sy gebruiklike voorspeler-stormlope deur die verdediging probeer dryf, maar hom telkens teen ’n blou muur vasgeloop. Daarenteen het Hou-blou-hou merendeels sy vlugvoetige agterlyn ingespan en die bal wyd gespeel.

Sesduim het ’n paar keer ook die bal ’n bietjie lug gegee, maar al te dikwels het die bal op die groen gras van King Edward beland – tot groot frustrasie van sy ondersteuners.

Sy bottervingers het Sesduim ’n paar geleenthede om punte aan te teken, gekos.

Voeg hierby Hou-blou-hou se uitmuntende keerwerk – Sesduim kon nie ’n enkele vyfpunter aanteken nie – en dis duidelik waarom die span in die rooi en wit truie die onderspit gedelf het.

Ryan George, die skrumskakel en stelskopper van die blou span, het vroeg in die wedstryd sy span se eerste punte met ’n strafdoel aangeteken (3-0).

Sowat 20 minute later het Brandon Beukes, die agtsteman van Hou-blou-hou, wat eers later sou blyk die enigste drie van die wedstryd was, gedruk. Ryan kon ongelukkig nie verdoel nie. (8-0)

Ná ’n paar vrugtelose pogings van Sesduim om deur Hou-blou-hou se hegte verdediging te kom, het Handré Ontong ná ’n oortreding deur die blou en wit truie sy span met ’n strafdoel uiteindelik op die telbord gekry.

Toe die spanne ’n welkome blaaskans gaan neem het, was die telling 8-3 vir Hou-blou-hou.

Ná rustyd het Ryan sy span se voorsprong met ’n strafdoel vergroot. Kort hierna het Handré net-net ook met ’n strafdoel geslaag – die bal het die dwarslat getref en toe oorgewip. Dit het die telling tot 11-6 geneem, met Hou-blou-hou steeds voor.

Vir die res van die wedstryd het die spanne om die beurt aanvalle van stapel gestuur. Die spel is gereeld van die een span se speelgebied na die ander s’n verplaas – soms selfs tot knap voor die doellyn.

Tog kon nie een van die twee spanne verder punte by hul tellings voeg nie – meestal as gevolg van goeie verdediging aan albei kante, maar die talle hanteerfoute het vir seker ook ’n rol gespeel.

Cleve Malgas, Hou-blou-hou se heelagter, het weliswaar Sesduim se doellyn een keer oorgesteek, maar die skeidsregter, Phillip Oliphant, het hom teruggeroep. Oliphant het beslis die bal is in die voorafgaande beweging vorentoe aangegee.

Hoewel die dissipline in die drukkoker-wedstryd besonder goed gehou het, het Oliphant op ’n tydstip twee spelers – die loskopstut, Bradley Jumaat van Ssduim en Dujon Swanepoel, ’n slot van Hou-blou-hou, weens ontoelaatbare spel koelkas toe gestuur.

Met hierdie welverdiende sege oor sy buurman het Hou-blou-hou sy hoop om Boland se Top 12-uitspele te haal, lewend gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article