Christiaan du Plessis (’n Netwerk24-verslaggewer en oudleerder van die Hoërskool Swartland), minister Anton Bredell, Brian Siebritz (voorsitter van die Malmesbury-sakekamer), Jan-Jan Joubert, Kobus Rossouw (ondervoorsitter) en Ilza le Minnie.

Credit: SYSTEM

Jan-Jan Joubert, gerekende politieke verslaggewer en skrywer van drie boeke, was verlede Dinsdag die spreker by die Malmesbury-sakekamer se Julie-byeenkoms.

Joubert het gefokus op Suid-Afrika se buitelandse beleid en die gevolge daarvan op ons land se ekonomie.

Hy werk tans aan sy doktorsgraad by die Universiteit van Chester in Brittanje.

Die aanbieding is gekenmerk deur Jan-Jan se eerlike dog humoristiese verwysings na vele ongemaklike leierskapsituasies in ons land in teenstelling met Nelson Mandela se tydperk van sterker morele waardes. “Het ons morele grond verloor?” was sy vraag. Hy het hierdie vraag opgevolg met ’n verwysing na Henry Kissinger se stelling dat lande geen beginsels het in buitelandse beleid nie, slegs belange.

Joubert was teenwoordig toe Jacob Zuma in 2011 die stigting van die Brics-konsep bekendgestel het. Hy het verwys na die euforie nadat Cyril Ramaphosa president geword en hoe die pandemie en ander uitdagings Ramaphosa se aansien letterlik gehalt het. “Ná al die twyfel oor Brics sien ons 12 jaar later tóg die voordele daarvan vir Suid-Afrika,” het hy gesê.

Met verwysing na die land se pro-Putin-houding en die Lady R-debakel, glo Joubert “Suid-Afrika spesialiseer daarin om op die laaste nippertjie van die afgrond af te herstel.”

“Net voordat Suid-Afrika met die Agoa-ooreenkoms oor die afgrond gestort het, het ons ’n totale ommekeer hieroor gesien. Die rol wat gerekende sakelui met hul gesprekke met Ramaphosa hierin vervul het, is groter as wat baie mense besef.”

Hy het drie positiewe punte uitgelig, naamlik ontwikkelings en groter werkskepping teen die Weskus tot teen die Namibiese grens, die voordele wat mynbou steeds vir Suid-Afrika inhou asook SA se strategiese ligging.

Tydens ’n lewendige vraetyd het hy erken dat sterker bande met die Weste gewis meer voordele vir die plaaslike ekonomie sou beteken. Hy voorspel ’n groter verdeling van stemme in die komende verkiesing en voorsien meer beurtkrag van September af.

Sy slotsom was: “Die huidige Suid-Afrikaanse politiek is gewis nie vir sissies nie. Dit is belangrik dat elke inwoner waaksaam bly; dat almal moet saamstaan en opstaan teen swak besluite en onregte op elke vlak van die samelewing.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article