Sedert Malmesbury Sakekamer in Junie die groenlig gekry het dat sakeleiers die dorp se poskantoorgebou kan opknap, maar dat dit op eie koste moet gebeur, het die soeke na geld begin.
Tydens ’n vergadering tussen die Malmesbury-sakekamer, die Swartland-munisipaliteit, landbouleiers en die SA Poskantoor se Wes-Kaapse bestuurder was dit duidelik dat die SA Poskantoor nie vir instandhouding begroot nie.
Ná die vergadering het die Swartland-munisipaliteit die boom, wat struktuurprobleme veroorsaak het, verwyder en die sakekamer- en landbouleiers het begin om geld vir die herstelproses te soek. Dit was duidelik dat geldinsameling in ’n post-Covid-omgewing veel moeiliker is as vroeër.
Die verligting was dus groot toe die Mount Royal-landgoed se Mount Royal Treasury Fund na vore tree en hul grootskaalse hulp met finansiering vir die poskantoorgebou aanbied. Danksy hierdie aanbod kon werk aan die poskantoor se dak verlede week begin.
“Die fokus is om met sakeleiers en die middedorp hande te neem,” verduidelik Corlia Spies, voorsitter van die trustfonds. “Die fonds is in 2007 deur die ontwikkelaar van Mount Royal-landgoed gestig en doen al jare lank goeie werk in Malmesbury.”
Die poskantoorgebou val onder die reëls van die Erfenisstigting. Die herstelprojek behels werk aan die gebou se buitekant, voorportaal en badkamers, asook die aanbring van ’n stoepheining om leeglêery te beperk. Die gebou word ook vir die eerste keer rolstoelvriendelik gemaak.
Voordat die projek kon begin, is verskeie kwotasies aangevra en die fokus is daarop om materiale plaaslik te bekom.
Intussen bied maatskappye in die dorp hulp aan, soos Glassfit, wat reeds vroeg vanjaar stukkende ruite kosteloos vervang het, Cape Dutch Group wat aangebied het om die houtvensterhortjies te herstel en iemand wat die blindings sal herstel.
“Kom ons bewaar ons middedorp,” vra Spies. “Die meeste van ons woon al jare hier; ons is lief vir ons dorp. Ek hoop regtig meer maatskappye en trustfondse sal betrokke raak om die dorp netjies en veilig te hou.”. Volgens SA Poskantoor se Wes-Kaap bestuurder, Riaan de Jager, het lede van die Hermanus-gemeenskap ook self hul poskantoorgebou opgeknap. . Teen Desember 2022 sal Mount Royal aan die noordekant van Malmesbury 160 voltooide huise hê.


