Die plaaslike klubrugbyspeler wat in Januarie op ’n klag van geslagsgebaseerde geweld (GBV) in hegtenis geneem is, is in verlede week skuldig bevind.

Die 37-jarige man het sy vriendin Saterdag 28 Januarie voor ’n restaurant in Robertson te lyf gegaan. Haar beserings was van só aard dat dokters vermoed het haar skedel is gekraak.

Die dokters het eers nadat die swelling gesak het, gesien die vrou se skedel is nie gekraak nie.

Die man was sedert sy inhegtenisname in aanhouding en het telkemale in die hof verskyn. Die Robertson-polisie het daarin geslaag om borgtog teen te staan.

Die klaagster in die saak, die ma van een van die beskuldigde se kinders, het glo die saak op twee geleenthede probeer terugtrek. Met die laaste probeerslag het die staat geweier en voortgegaan.

“Klaers wat strafsake geopen het, kan dit nie net terugtrek nie. Hulle kan verklarings verskaf wat die staat versoek om te oorweeg om die aangeleentheid terug te trek en die staat sal besluit. Die klaagster het die staatsaanklaer op Vrydag 26 Mei genader sonder enige vooraf afspraak en mondelings aangedui dat sy nie meer met ’n strafregtelike vervolging teen die beskuldigde wil voortgaan nie. Konsultasie is ingevolge NVG-beleidsvoorskrifte rakende GBV-aangeleenthede met die klaer gedoen om die basis en redes vir hierdie versoek te ondersoek. Die klaagster het na die ondersoekbeampte verwys vir ’n verklaring onder eed waarin sy redes vir die versoek verskaf het. Die aanklaer wat die saak hanteer, het die verklaring op 1 Junie ontvang.

Die staat het egter besluit om voort te gaan met die saak.

“Getuies wat verklarings aflê, is verplig om te getuig tensy dit deur wetgewing vrygestel word. As die NVG sal ons nie hierdie ernstige sake om flou redes terugtrek nie,” het Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, verduidelik.

“Die feit dat die klaagster die saak wou terugtrek, en ander bydraende faktore het bygedra tot die hof se uiteindelike uitspraak.

“In die lig van die klaer se tekort aan belangstelling om ’n strafsaak verder te voer, het die Staat ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die verdediging aangegaan soos voorsien in Artikel 105A van die Strafproseswet.

“Die klaer se gevoelens word in ag geneem en teen die breër plig teenoor die gemeenskap ten opsigte van vervolging van GBV-aangeleenthede opgeweeg. Hierdie, sowel as faktore wat howe in vonnisverrigtinge in ag neem, speel wel ’n rol wanneer dit by vonnisoplegging kom.”

Die beskuldigde is Donderdag 1 Junie skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer.

“Die saak is afgehandel nadat die beskuldigde by wyse van ’n pleit- en vonnisooreenkoms skuld op ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer beken het.

“Die beskuldigde is dus skuldig bevind soos aangekla en tot ’n opgeskorte vonnis gevonnis met voorwaardes van skorsing soos per die klagstaat.”

Die beskuldigde is tot agtien maande gevangenisstraf gevonnis, wat geheel en al opgeskort word vir ’n tydperk van vyf jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie tydens die vyf jaar skuldig bevind word aan aanranding met die opset om ernstig te beseer of enige misdryf waarvan aanranding ’n element is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article