Dashton Wellman, die kaptein van Wesbank, op die aanval teen Delicious. Foto: Ruben Samson


Noudat drie weke van opwindende rugby in die 2023-Sanlam-Boland-Top12 agter die rug is, het ’n paar spanne darem al ’n regmerkie agter hul naam gekry.

Met twee oorwinnings agter die rug – oor Mamre (34-23; Saterdag 28 Oktober) en Delicious (53-19; Saterdag 4 November) – het Wesbank gewys hy kan moontlik ’n kandidaat vir ’n halfeindstryd op 25 November op die Boland-stadion wees.

Wesbank het sy derde Sanlam-Boland-Top-12-uitklopwedstryd voor sy tuisskare afgeskop toe Melvin Laserus die eerste drie van die wedstryd aangeteken en Matthew van der Westhuisen ’n paar minute later Wesbank se telling na 10-0 vermeerder het toe hy ’n paar minute later in die hoekie ná ’n goeie breekslag deur sy kaptein, Dashton Wellman, oorgeval het.

Delicious het egter teruggeslaan toe Carl-Andrew Heins ’n bal in Wesbank se 22 m gebied van Wesbank onderskep en onder die pale gaan druk het, wat die agterstand met drie punte tot 10-7 laat krimp het.

Wesbank het die wedstryd met sy swaar pak voorspelers begin oorheers en goeie balbesit aan die agterlyn besorg. Wellman was die generaal agterlangs en het met sy systappe Delicious se spelers in die lug laat gryp telkens wanneer hy op die aanval was.

Wellman het Wesbank se skare met uitstekende voetwerk en systappies op hul voete gebring toe hy deurgenael en langs die pale afgerond het.

Brendon Apollis het ’n hoë skop, wat op hom gemik is, goed bemeester en in ’n aanval omgeskep, wat tot Wesbank se bonusdrie – ’n drie deur Juwell Sameuls – gelei het, wat langs die linkerkantse regoppaal afgerond is. Dillon Strydom was in die kol met die doelskop.

Keagan Solomons, wat op nommer agt ’n barshou gespeel het, is vir uitstekende werk agter die pak beloon en het vir Wesbank se vyfde drie oorgeval, wat deur Strydom verdoel is vir ’n voorsprong van 29-7, wat die rustydtelling was.

Ná rustyd het Wesbank die krane oopgedraai en nog 24 punte bygedra, met Matthew van der Merwe wat ’n driekuns behaal het en Keagan Kortjie, Keanan Solomons en Gavern Skippers een elk. Strydom het die ander punte met die skopskoen bygedra.

Delicious het nie moed opgegee nie en twee drieë gedruk, maar kon nie die oormag van Wesbank afskud nie en moet nou weer tekenbord toe gaan nadat Wesbank hom met 53-19 gelooi het.

Met drie punte agter die ligavoorloper voorspel Wesbank niks goed vir sy volgende teenstander, Young Hamiltons, in Worcester nie.

Ander uitslae:. Saldanhabaai 97-17 Vanrhynsdorp Eagles. Safcol United 29-10 Young Hamiltons. Darling 24-30 Robertson Town. Bella Vista 56 -24 Mamre. Roses 29-21 Hawston

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article