Die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg pronk met vyf A-gemiddelde kandidate uit die altesaam 61 leerders wat verlede jaar hul nasionale seniorsertifikaateksamen voltooi het.
’n Verdere 80% het universiteitstoelating behaal, terwyl 93,4% toelating tot tersiêre studies het. Altesaam 62 vakonderskeidings is aangeteken.
HDU se slaagsyfer staan vanjaar op 98,36%.
Die topleerder van 2022 se matrikulante is Nienke Smit. Sy het ’n ongelooflike 91,1%-gemiddeld behaal, asook altesaam sewe onderskeidings.
Abbi van der Westhuizen, pronk tweede op die ranglys met ’n 86,4%-gemiddeld en ses onderskeidings.
Derde was Nina Louw met ’n 83% gemiddeld met vyf onderskeidings.
Smit het haar hele skoolloopbaan die eerste plek as topleerder van haar graad volgestaan, maar erken sy het nie geweet wat die NSS-eksamen se eindresultate sou wees nie. “Dit is baie onvoorspelbaar. Nuwe mense merk die vraestelle, so enigiets was moontlik. Ek het nie geweet wat om te verwag totdat die dag aangebreek het nie,” vertel sy. Sy sê ’n mens kan uiteindelik die vrugte pluk wat jy gesaai het, want sy het hard gewerk vir haar punte.
Haar raad vir vanjaar se matrieks is om hul deel van dag een af te doen. “Dit is ’n rowwe jaar. Daar gaan baie afleidings wees, maar as akademie vir jou ’n prioriteit is, is dit belangrik om jou deel van dag een af in te sit. Maak gebruik van die tyd wat jy in die klaskamer het en doen net jou beste. Dit is net wat jy doen wat jy kan bepaal.”
Sy het keuring ontvang vir haar graad in geneeskunde en snykunde (MBChB) aan die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg-kampus.. Die ope dag vir alle gr. 7-leerders is op 23 Februarie om 16:15 by die koshuise.. Kontak HDU by 022 433 2253 vir nog inligting of stuur e-pos na ontvangs@dirkieuys.co.za.




