HAWSTON – Die grondslag vir Hawston se sege teen Robertson Rangers in hul derderondewedstryd in die Boland-Top-12-kompetisie was sy oorheersende skrumwerk, wat die Robertsonners se energie getap het.
Hawston, wat rustyd gemaklik 19-3 voorgeloop het, het in die tweede helfte voortgebou op sy goeie werk van die eerste veertig minute en uiteindelik 32-15 koning gekraai.
Rangers se skrum was deurgaans onder groot druk en dit het veroorsaak dat die besoekers hul aanvallende spel van die agtervoet af moes doen. Dit het weer tot talle ongedwonge foute, soos om die bal aan te slaan, bygedra.
Daarbenewens het ’n lastige wind lynskoppe kantlyn toe, korrelwerk pale toe asook ingooie by die lynstane vir albei spanne bemoeilik.
Benewens Hawston se sterk skrum was sy verdediging ook aansienlik beter as dié van Rangers. Rangers het by meer as een geleentheid tot enkele meter van Hawston se doellyn gevorder, maar kon net nie deurdring nie.
Rangers is tot slegs twee drieë beperk, terwyl Hawston vier keer die besoekers se doellyn oorgesteek het.
Rangers het weliswaar nou en dan besit omgekeer, maar moes grootliks uit gebroke spel probeer munt slaan.
Hawston het sy skrumvoordeel goed aangewend en soms selfs met kreatiewe spel vorendag gekom, soos die skopaangee van die buitesenter, Roland Swarts, wat tot die regtervleuel, Wesley Spandiel, se drie gelei het.
Spandiel het in dieselfde beweging ook sy verborge sokkertalent ten toon gestal toe hy – pleks van sy hande – sy linkervoet ingespan het om die bal sokker-styl onder beheer te bring.
Hy het die bal met die binnekant van sy linkervoet gekeer, waarna dit vorentoe en oor die doellyn gespring het. Hy het toe daarop geduik en só sy span se eerste drie aangeteken.
Hawston se tweede drie het juis uit ’n goeie skrum gekom. Francois Geduld, die agsteman, het agter opgetel en steelkant-om gebreek. Toe hy enkele meter van die doellyn gestuit word, was sy kaptein en woelige kantman, Branden Hunter, byderhand om ’n pragdrie af te rond.
Ten spyte van talle goeie aanvalle deur Rangers, kon hy eers in die tweede helfte sy eerste drie aanteken.
Dit het gekom ná nog so ’n verwoede aanval waartydens verskeie spelers, onder wie Brendon Erasmus (skrumskakel), Damian May (haker), Navin Padiachy (regtervleuel) en Siva Padiachy (agsteman en kaptein) die bal hanteer het.
Nadat Navin die bal vir die tweede keer in dieselfde beweging ontvang het, het hy ’n lang aangee na sy vleuelmaat, Dylan Tieties, geslinger, wat netjies in die linkerhoek afgerond het.
Rangers se tweede drie is gedruk deur die plaasvervanger-losvoorspeler Marco Jonesná ’n kraglopie deur May, die span se vuurvreter-haker, wat Hawston heelmiddag met sy kragtige stormlope getreiter het.
Jones het self eers ’n verdediger uit die pad geloop voordat hy die drie gedruk het.
Hoewel Rangers nooit ophou probeer het nie, kon hy egter nie uit die ystergreep van die tuisspan ontsnap nie en die onderspit gedelf.
Ná drie rondes van die Top-12-kompetisie is Hawston, wat in Groep A meeding, tans in die tweede plek met nege punte.
St. Helenabaai, wat ook nege punte het, blaas egter kwaai in sy nek.
Rangers is onderaan die punteleer van Groep A met ses punte.





