Agter (van links) is Shadrick Valayadum (direkteur van The Haven-nagskuilings in die Wes-Kaap), die beraders Enrico Cloete en Bernie van Wyk, Piet Jaar, pastoor Mark Solomons en Alberto Goliath. Voor: Chantal Leng (hoof van The Haven-nagskuiling), die gerehabiliteerde hawelose Simon Stonga en die maatskaplike werkers Evangileen Lakey en Zukanye Ndukwana. Die nagskuiling beoog om hierdie soort byeenkoms meer dikwels aan te bied ten einde meer haweloses te bereik. Foto: Sarie Nell

Credit: SYSTEM

Malmesbury se nagskuiling het ongeveer 80 hawelose mense Vrydag (21 April) vir ’n saamtrek in Malmesbury se stadsaal genooi.

Hulle het huiwerig en skaam nadergekom, maar danksy koffie en sop kon hulle begin ontdooi en luister na ’n bekendstelling van dienste wat beskikbaar is om hul lewensgehalte te verbeter.

Dienste wat die Swartlandse The Haven-nagskuiling, gesondheidsorgdienste en beskikbare beraders bied, is bekendgestel asook die kantore wat kan help om ID’s en CV’s te bekom.

Sprekers se uitdrukkings wat deur hawelose mense beaam is, was onder meer: “Elkeen van ons het ’n storie, ’n rede waarom ons seergemaak en weggegooi voel. Ons het beraders nodig.” En: “Vat die eerste treetjie na verbetering en kom nagskuiling toe,” asook “Ons wil help om jou dignity terug te kry.”

The Haven Night Shelter is ’n organisasie sonder winsbejag in die Wes-Kaap en bied ook dienste aan in dorpe soos Ceres, Mosselbaai en verskeie takke in Kaapstad.

Dit is juis personeellede van die nagskuiling wat hierdie byeenkoms gereël het. Maar hoe gemaak om mense sonder ’n selfoonnommer of huisadres te kontak sodat hulle van die byeenkoms weet?

“Ons het die mense snags van 21:00 af op straat gaan opsoek en uitgenooi. Dit was verlede week se reënnagte – ons harte was so aangeraak om te sien hoeveel mense onder een kombers teen die reën skuil,” vertel Evangileen Lakey, ’n ondersteunende maatskaplike werker by die nagskuiling. “Ons het gehoor hoe party huil en na hul ma roep toe dit so hard reën.”

Drie mense wat hul lewe danksy die nagskuiling kon omswaai en deesdae voltyds werk, het hul verhale van rehabilitasie vertel. Een van hulle is Alberto Golaith, wat eers by Raïel werk gekry het en deesdae ’n toesighouer by The Haven is.

“Die nagskuiling het my alles gegee wat ek nog nooit gekry het nie,” het ’n emosionele Piet Jaars vertel. “Blyplek, liefde, kos en hulp om werk te kry.”

Ná die formele program kon die haweloses hulle laat toets vir TB, HiV en ander siektes, en is ter afsluiting met ’n bord kos getrakteer.

Matrikulante van die Hoërskool Swartland het saamgespan en sop en broodjies uitgedeel. Hulle het ook skenkings van toiletware en geld aan die nagskuiling oorhandig. . Vir enige navrae, skakel die programbestuurder Chantal Leng, by 022 486 5191.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article