Wesbank moes hard werk om ‘n oorwinning van 24-20 oor Samoa op dié se tuisveld te beklink.


Saterdag se Boland-unie-ligawedstryd in Moorreesburg was volgepak met die toeskouers van al twee spanne, en niemand is teleurgestel met die goeie hardlooprugby wat opgedis is nie.

Die Wesbank-rugbyklub moes baie hard werk en diep delf om Samoa op sy tuisveld te klop. Samoa, wat eerste bloed geruik het om te gaan druk, het die eerste helfte met sy aanvallende spel oorheers en net Wesbank se goeie verdediging het die tuisspan, wat rustyd voorgeloop en verbete aangeval het, van die doellyn weggehou.

Die besoekers het die bordjies in die tweede helfte met meer balbesit verhang en Samoa kon nie keer toe Wesbank aan die hardloop gegaan het nie. Drie drieë deur Wesbank se agterspelers het Moorreesburg onder druk geplaas en Samoa, wat “catchup” rugby moes speel, se tyd het uitgeloop om sake reg te stel. Die eindtelling was 24-20 in Wesbank se guns.

Samoa se vleuel Christo January het twee drieë gedruk.. Saterdag speel Wesbank teen Darling RVK en hoop om Darling uit die wedloop vir die Swartland-kampioenskap te haal.

Wesbank wil graag sy buurklub, Never Despair, help om saam met hom vir die Boland-unie se top-12-kompetisie te kwalifiseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article