Young Hamiltons het die afgelope Saterdag ’n gulde geleentheid om as oorwinnaars van die veld te stap, deur sy vingers laat glip.
Die wedstryd teen Rangers Robertson, wat deur ’n magdom Hammies-ondersteuners bygewoon is, is vir 70% deur Hammies oorheers. Van die afskop af het die besoekers hul voorneme duidelik gemaak en in die Rangers se gebied geboer. Twee mislukte strafskoppogings later was dit egter Rangers wat 3-0 voor was nadat Hammies onkant betrap is en sy losskakel, Dawie Conradie, in die kos was.
Hammies het wel hierna punte gekry ná ’n skrumoortreding deur Rangers toe Ussiel Langeveldt met ’n strafskop geslaag en die spanne gelyk laat trek het. Hammies kon egter hierna geensins afrond ná verskeie aanslae op die Rangers doellyn nie. Mislukte strafskoppe het Hammies op die agtervoet gehou en teen rustyd was hy 16-3 agter nadat Dawie met nog twee strafskoppe asook ’n doelskop geslaag het nadat Rangers oor die doellyn is.
Ná rustyd het Hammies met nuwe vuur gespeel en punte aangeteken toe die flank Philbrey Joseph oorgaan en die telling 16-8 ná die soveelste mislukte skop was. Hammies het hierna pragtig gevorder toe die senter Ashwill Klein langs die pale oorgeval het. Wat hierna gebeur het, het die wenkbroue laat lig toe dit blyk die losskakel, Ussiel Langeveldt, nie die doelskop wou waarneem nie en die skop aan Ethan Setera toevertrou het, wat op onverklaarbare wyse en tot groot teleurstelling van die Hammies-ondersteuners reg voor die pale misgeskop het. Hierna het Luciano Truter die veld betree om met die skopwerk te help.
Rangers is weer oor ná ’n lelike agterlynblaps waar die bal in een van die Rangers-spelers se hande beland het en Hammies onkant was. Hammies is met die vinnige tikskoppie onverhoeds betrap en Rangers het gedruk om ná die doelskop 23-13 voor te loop. Hammies het verwoed aangeval en is met ’n strafskop binne trefafstand beloon, maar Truter het ook misluk, maar met Claudio Matolla se doelskop slaag om sy span binne trefafstand te bring (telling: 23-20).
Rangers het egter reg aan die einde ’n strafskop oorgeklits en 26-20 gewen nadat Dawie Conradie sy 160ste punt vir vanjaar aangeteken het.
Hammies B het 12-3 gewen met die C-span se eerste omstrede nederlaag 15-13 teen Rangers C.. Hammies speel Saterdag tuis teen Swellendam.




