Yvonne Goliath gee om vir die gemeenskap van Abbotsdale en deel gereeld sop vir die kinders en inwoners uit.

Credit: SYSTEM

’n Pensionaris en weduwee van Abbotsdale gebruik haar maandelikse Sassa-toelae om terug aan haar gemeenskap te gee.

Yvonne Goliath, of “Ta Von” soos sy bekend is, deel een keer per week vir behoeftige inwoners in haar gemeenskap sop uit en het ook Mandeladag, wat Maandag 18 Julie gehou is, op dié wyse gevier.

Volgens Goliath tree tussen 20 en 30 kinders, tussen die ouderdomme van nege tot 14, aan wanneer sop uitgedeel word.

Die getal vermeerder wanneer volwassenes bykom.

“Elke kind en volwasse bring hul eie houer en vir dié wat nie houers het nie, maak ek voorsiening om aan hul te gee,”

Goliath sê gedurende die wintermaande maak sy sop wat sy dan aan behoeftiges uitdeel en gedurende Desember­vakansies bederf sy kinders met kos- en lekkergoedpakkies.

“Ons woon oorkant die N7, so ek wou nie die hele Abbotsdale se kinders in gevaar stel nie, dis waarom ek besluit het om my aandag aan die Kloof en plaas daar naby te gee,” sê Goliath.

“Dis ’n passie om te gee, te deel en my liefde aan ander te bewys,” sê sy.

“My doel is dat my medemens moet weet dat dit is deur God se genade en liefde dat ek hierdie kan doen.

“Ek gee verskriklik om, en is baie lief vir senior burgers en kinders.”

Goliath sê sy is ’n gemeenskapsmens wat lewe vir haar familie en naastes, en dit laat haar goed voel.

Sy is op 9 April 1948 in Stellenbosch gebore en is deur haar ouma en oupa op ’n plaas in Jonkershoek grootgemaak.

In haar tienerjare was Goliath aktief by Bybelstudieklasse en netbal betrokke.

“Ek kan maar spog en die wêreld vertel dat ek altyd die beste in Bybelversies was en so het ek begin leer van God se woord,” deel sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article