ROBERTSON – Verskeie rugbyklubs in die Boland het Saterdag (4 Februarie) hul 2023-rugbyseisoen met vriendskaplike wedstryde afgeskop.
Die ligawedstryde vir klubs in die Boland-rugbyunie begin volgens ’n amptelike skrywe van die unie op 18 en 24 Maart, afhangende van hoeveel spanne in ’n sekere afdeling meeding.
“Let op: Waar twaalf spanne in ’n afdeling speel, sal Wit-Sentraal Saterdag 18 Maart amptelik met sy ligaverpligtinge begin.
“Vir klubs waar minder as twaalf spanne in ’n afdeling speel, sal hul seisoen Saterdag 25 Maart begin,” lui ’n skrywe wat op 30 Januarie aan al die voorsitters van klubs wat in die Boland se onderskeie kompetisies deelneem, gestuur is.
Robertson Town en Villagers Montagu het die afgelope Saterdag mekaar die stryd aangesê.
Dié vriendskaplike wedstryd, wat weens die versengende hitte eers om 17:45 afgeskop het, is op die Callie de Wet sporttereein in Robertson beslis.
Omdat die uitslag van die wedstryd nie belangrik was nie, het beide spanne die bal met vrymoedigheid lug gegee, maar in die proses ook talle hanteerfoute begaan.
Nogtans het Villagers, wat Robertson in die skrums opgedreun het, binne die eerste paar minute – juis ná ’n sterk skrum – gaan druk.
Tydens dié kragmeting het die besoekers nog vier keer agter die tuisspan se doellyn gaan kuier.
Een daarvan was ’n strafdrie, wat deur die skeidsregter, Habrey Philander, toegeken is.
Robertson het egter self vyf keer die besoekers se doellyn oorgesteek. Uiteindelik was dit die besoekers wat die vriendskaplike wedstryd naelskraaps met 33-31 in hul guns beklink het.
Eerskomende Saterdag (11 Februarie) speel Villagers tuis teen Roses United om die Fallen Heroes-beker.
Dié beker het voorheen as die Ivan Pekeur-wisseltrofee bekend gestaan.
Laasgenoemde twee klubs ding jaarliks om dié silwerware mee.
“Ná gesprekke tussen alle rolspelers rakende die Ivan Pekeur-sportdag, wat jaarliks tussen Villagers en Roses plaasvind, is konsensus bereik om die naam van die dag en die trofee te na die Fallen Heroes-beker te herdoop.
“Sodoende word steeds erkenning gegee aan alle legendariese afgestorwe ampsdraers, spelers en ondersteuners van ons klub,” het John Benjamin, ’n bestuurslid van die Villagers Montagu RVK, die naamsverandering op die klub se Facebook-blad, Villagers Montagu (ook bekend as 6-duim) verduidelik.




