Die Malmesbury-sakekamer het in sy Mei-vergadering geleentheid gebied vir Joggie Scholtz, die munisipale bestuurder, om meer inligting oor nuwe ontwikkelings in en om Malmesbury te verskaf.
“Alles wat beplan word, realiseer nie altyd nie,” was Scholtz se eerste opmerking. Hierna het hy verwys na De Swartland Werf, waar die nuwe winkelsentrum en private hospitaal sedert Oktober 2022 in aanbou is.
Die hospitaal sou deur die Genesis-groep bestuur word en 88 beddens bied, maar weens samesmeltings val dit nou onder Crest Care, met 125 beddens. Die hospitaal sal werksgeleenthede vir 200 personeellede beteken en moontlik later ’n aftreeoord insluit.
Die eerste fase van die winkelsentrum, met Woolworths (klere) en Clicks as ankerwinkels, behoort einde Oktober 2023 te open. “Altesaam 267 werkers was aanvanklik elke dag op die bouperseel, maar tans is dit 483, met ’n daaglikse uitgawe van R3 miljoen.”
Die Klipfontein-ontwikkeling oorkant die munisipale lisensiekantoor behels bouwerk in 82 fases. Hier sal woonbuurte gebou word met woonplek vir 10 000 mense (of 2 500 gesinne).
Verkeersopeenhopings by Dieprivierbrug op pad na McDonalds en die sportterrein bly ’n knelpunt. “Dit is op ons prioriteitslys, maar hierdie projek raak al duurder.”
Verdere ontwikkelings sluit in: . Winelands Pork, ’n varkslagtery suid van die dorp, regoor Rozenbergplaas, met werksgeleenthede vir 300 mense; tot 2 300 varke sal daagliks hier geslag word. . Bouwerk aan ’n nuwe akademiese hoërskool begin later vanjaar in Wesbank;. ’n Tweede Petroport aan die regterkant van die N7. Bouwerk sal moontlik later vanjaar begin.. Die bou van Swartland Junction, ’n splinternuwe private ontwikkeling wes van Abbotsdale. Dit beslaan ongeveer 300ha vir residensiële- en kantoorruimtes. Bouwerk begin volgens plan in 2025.
“Geen van hierdie ontwikkelings sou moontlik wees sonder die rioolstelstel wat in Oktober 2013 geopen is en sedertdien uitstekend bestuur word nie. Dit was die Swartland-munisipaliteit se duurste projek nog (R115 miljoen) en maak tien jaar later steeds nuwe ontwikkelings moontlik.
“Infrastruktuur skep welvaart (en nie andersom nie)”, het Scholtz gesê.
Die nuwe De Hoop-substasie wat gebou gaan word en verligting vir die kragsituasie sal beteken; noukeurige navorsing oor beskikbare waterbronne ter wille van verdere groei en ontwikkeling; planne om grond beskikbaar te stel vir (nog) ’n Swartlandse sonplaas; die stelsel waarvolgens mense wat surplus-energie in die netwerk terugvoer, krediet op hul munisipale rekeninge kry; en die beplanning van ’n Smart City, is van die ander aspekte wat ook bespreek is.





