’n Wynplaaseienaar in Robertson sit met sy hande in sy hare nadat bewoners onwettige strukture op sy plaas opgerig het en tans daar woon.
Volgens Casper Viljoen, eienaar van die plaas wat grens aan die dorp, en wat om privaatheidsredes nie genoem wil hê nie, het dié probleem reeds in 2018 vlamgevat toe die eerste paar strukture opgerig was.
Die saak het in 2019 in die Kaapstad Hooggeregshof gedraai, met ’n bevel dat die inwoners die plaas moet ontruim, maar sedertdien het daar net nog strukture bygekom.
Volgens hom het hy eers ná die vierde struktuur opgerig is, agtergekom dat mense op sy plaas woon omdat dit nie op ’n duidelik sigbare gebied was nie.
Hierna het Viljoen dadelik aksie geneem en regshulp ingewin waarna die saak in 11 Januarie 2019 in die Hooggeregshof gedraai het, volgens die hofdokument.
Viljoen het verduidelik daar is tans 60 strukture op sy plaas wat grens aan die Droëheuwel- en Môreson- informele nedersettings.
Volgens die wynplaaseienaar eet die bewoners van die ryp druiwe en ander vrugte en maak ook wyn met van die druiwe.Boonop saag hulle ook sekere bome af vir hout.
Die uitsettingsaak is steeds aan die gang en Viljoen wag op ’n presiese uitsettingsdatum.
Nóg ’n kinkel in die kabel is die Langeberg-munisipaliteit wat ’n paar jaar gelede besluit het om ’n gedeelte van die plaas te koop vir ontwikkelingsdoeleindes, maar sedert die hofgeding die onderhandelinge vir eers op ys geplaas het. Die koerant het verlede Vrydagoggend (4 Augustus) om 08:00 uitgereik na die Langeberg-munisipaliteit om te hoor of daar wel planne in die pyplyn is, maar teen druktyd is nog geen kommentaar ontvang nie.
Sit jy dalk ook in so penarie?
Die Breederivier Gazette het uitgereik na die prokureur Wynand Wagner van Conrade Inc Attorneys wat verduidelik het die regsproses vir só ’n uitsetting kan tot nege maande duur en selfs langer, soos in dié geval. Hy het die volgende raad gegee:
- ’n Kennisgewing moet aan die bewoners gerig word, waarin hulle gemaan word om onmiddellik die plaas te verlaat of regstappe sal geneem word.
- Indien die plaas nie ontruim word nie, moet ’n Hooggeregshofaansoek teen die bewoners van stapel gestuur word in terme van die gemenereg.
- Die aansoek kan dan geopponeer word, waarna die saak die gewone proses sal volg soos enige ander hofaansoek.
- Nietemin, indien die plaaseienaar suksesvol is in die Hoogeregshof-aansoek, is daar geen verdere stappe wat gevolg moet word nie; die hofuitspraak is dus die einde van die saak, tensy die partye wat verloor het, appèl aanteken.
- Indien daar nie appèl aangeteken word nie en die plaaseienaar hul uitsettingsbevel ontvang, moet die bewoners in die teenwoordigheid van staatsentiteite soos die polisie, brandweer en maatskaplike werkers, die grond verlaat.




