Die koringmark is sedert Februarie 2022 in die kollig.
Heleen Viljoen, ’n junior ekonoom by Graan SA, het aan die einde van verlede jaar nog verduidelik dat kontrakpryse baie wisselvallig verhandel. “Plaaslike koringpryse volg normaalweg die invoerpariteitstendens, maar die laaste paar maande het kontrakte nader aan uitvoerpariteit begin beweeg.”
Plaaslike koringkontrakte het volgens haar sedert einde November verlede jaar met ’n sterk afwaartse neiging verhandel. Die nuwe 2022-’23-bemarkingseisoen het in Oktober 2022 met verhoogde beginvoorraad begin. “Hoër beginvoorraad, tesame met verhoogde invoer asook ’n groot invloei van voorraad uit die oesproses van die plaaslike produsente, het merkbare afwaartse druk op kontrakpryse geplaas,” het sy verduidelik. “Bykomende afwaartse druk is op plaaslike pryse toegepas deur groot hoeveelhede mededingend geprysde Russiese koring, wat aan die einde van 2022 ingevoer is,” het Viljoen bygevoeg.
Sy het bevestig wintergraanprodusente begin met voorbereiding vir die nuwe plantseisoen. Goeie nuus vir produsente is dat insetkostes ná verlede jaar se rekordhoogtes begin afneem het.
“Wintergraanprodusente se winsmarges word steeds deur hoë insetkostes bedreig en die daling in die koringprys kan winsmarges onder druk plaas.”
André Kirsten, ’n plaaslike boer en Graan SA se voorsitter van die Swartlandstreek, is dit eens dat 2022 ’n jaar vol veranderinge en moeilike omstandighede met hoë insetkostes was. Hy het in ’n onlangse verslag aan Graan SA ’n oorsig oor 2022 se plant-en-oes-seisoen gedeel.
“As ons kyk na die reënval wat baie min was, moes dit ’n totale misoes gewees het, maar produsente is wel verbaas. Hy vertel dat daar weer verlede jaar in die droogte geplant is, gevolg deur baie reën op 29 Mei en vroeg in Junie. Julie het nog redelike reënval ervaar, maar dit het daarna begin afneem, gevolg deur ’n droë September.
Volgens hom was dit glad nie ’n goeie jaar vir kanola nie. “Die kanola het laat en dun opgekom. Dit het mooi herstel, maar toe hulle blomme moes volmaak in September, het dit niks gereën nie en ons het baie afspening gehad.”
Hy bevestig dat die hele Swartland ’n ondergemiddelde oes ervaar het en dat drastiese aandag aan die logistiek van kanola gegee moet word. “As dit ’n normale oes was, sou opberging ook ’n baie groot probleem gewees het. Dan het ons ook verneem dat al die Pioneer-saad uit Kanada gekanselleer is – dus gaan ons vanjaar ’n groot saadtekort hê,” voeg hy by.
Wat gars betref, is die opbergingsprobleme nog nie opgelos nie, brei Kirsten uit. “Produsente wil nie op daardie risiko saai waar hulle nie weet waar hulle kan lewer nie.”
Op ’n ander noot het verlede jaar se koringoes weer baie mense verbaas wat die gehalte en produksie daarvan betref. “Die oes was ondergemiddeld, maar nie ’n misoes nie. Plek-plek het die verskillende gronde goeie of swakker gehalte koring opgelewer, wat toegeskryf kan word aan grondvrugbaarheid en -gehalte. “Die koringpryse was goed en daar was geleentheid om koring teen ’n goeie prys te verkoop.”
Volgens hom was daar ook nie baie vordering met lupiene nie. “Ons kry nie nuwe kultivars nie, behalwe Coyote wat 26 ton saad opgelewer het.”
Kirsten voeg by dat daar ook 25ha someraanplantings gemaak is om te kyk of die saad kan vermeerder. “Die produksie van lupiene was weer eens swak.”
Hy sluit af deur te sê dat die Here in beheer is. “Verlede jaar het ek net weer besef dat die Here in beheer is. Bly dus nederig en glo in God. Hy sorg vir ons.”





