Die Goue Aar-tehuis in Malmesbury vat die toekoms van die instelling behoorlik vas danksy die hulp van twee inwoners van die dorp, Yolandy Geduld (42) en Anika Steyn (32), wie se hande en harte vir niks en niemand terugstaan nie.
Goue Aar is tans fluks besig met hul omdraaiplan vir die voortbestaan van die tehuis en sy inwoners.
Die plan sluit onder meer hul splinternuwe en gemeubeleerde kamers, dagsorgfasiliteite asook twee woonstelle in wat tans op die perseel gebou en opgeknap word met dienste vir bejaardes of senior burgers wat ’n behoefte aan verblyf en doeltreffende versorging het.
Die tehuis is deesdae volgens Geduld en Steyn “vriendelik” en “aantreklik” sedert hul opedae wat gedurende die afgelope tyd plaasgevind het. Besoekers raak opgewonde oor die moderne nuwe kamers, terwyl die eetkamer boonop ook baie vrolik lyk met netjiese eetgerei en kleurvolle versierings wat die vertrek behoorlik opkikker.
Geduld, wat aan die stuur van bemarking en geldsake is, het aanvanklik vir ’n paar maande in 2013 twee keer per week as vrywilliger by Goue Aar kom werk. Ná haar studies en ’n wye draai in die Swartland as ’n ervare maatskaplike werker, het sy haar byna 11 jaar later weer voor die tehuis se deure bevind.
Geduld is op 1 Augustus 2023 vir ses maande as hul geldinsamelaar by die tehuis aangestel, maar is sedert 1 Mei vanjaar voltyds as geldinsamelaar en bemarker aan die woeker danksy ’n kursus wat sy gedoen het. Dit was nie ’n maklike besluit om haar loopbaan as maatskaplike werker te los nie, maar Geduld het geweet dit is hier waar sy ’n ware verskil sal kan maak.
“Dit was ’n gebedsaak. Om my werk te los vir ’n plek waar die toekoms onseker was, was oorweldigend.”
Vandag kyk sy nie vir een oomblik terug nie. Geduld, wat die bemarking van die omdraaiplan dryf, se kernfokus is om die inwoners van die tehuis en die bejaarde burgers van die plaaslike gemeenskap te dien. Sy werk ook daagliks daaraan om die nuwe kamers en beddens te bemark en die byna voltooide woonstelle is reeds bespreek. Dit is haar wens dat alle bejaardes elke aand warm slaap, bedags aangetrek is, gebalanseerde maaltye ontvang, warm bad of stort en daagliks die regte medikasie ontvang met algehele fisieke en geestelike versorging.
As bemarker maak Geduld seker die skenkings wat ontvang word, bly verwant tot die behoeftes van die inwoners en bejaardes van die omgewing. “Daar is baie inwoners wat graag van ons dagsorgfasiliteite gebruik wil maak, maar kan dit nie bekostig nie,” voeg sy by. Daarom nooi sy enigiemand om met haar te gesels sodat ’n bejaarde burger vir ’n dag met versorging, maaltye en sekuriteit bederf kan word. Die dagsorgfooie beloop slegs R253 vir 12 ure se sorg.
Steyn het op haar beurt op 27 Junie verlede jaar saam met haar ma en die kunstenaar Surietha Steyn as vrywilligers by die tehuis kom aanklop om kunsaktiwiteite vir die bejaarde inwoners aan te bied. So het hul kunsklas, Vlytige Vingers, ontstaan, wat vandag met meer as 40 lede pronk.
Volgens Steyn het die voormalige bestuurder Leon Venter die potensiaal in haar raakgesien en het die huidige waarnemende bestuurder George Holtzhausen besluit om haar vir ’n proeftydperk aan te stel. Haar ma kom steeds twee keer per week in om die kunsklas saam met Steyn aan te bied, terwyl sy voltyds in beheer is van omvattende stimulerende aktiwiteite vir die inwoners.
Dit was nie vir haar moeilik om haar by Goue Aar te kom vestig nie. Sy is boonop versot op drukkies en ’n hart wat uitstraal na ander.
Steyn is ook deel van die span wat die beskikbare beddens bemark en verleen ondersteuning wanneer dit by die bespreking van die russtoele in die dagsorgafdeling kom.
Sy moedig die gemeenskap aan om haar te kontak as iemand vir die bejaarde inwoners en senior burgers wil optree. “As jy kan sing, stories vertel, instrumente speel of voorlesings doen, praat met my,” voeg sy by.
Kontak Goue Aar by 022 286 6240 of stuur e-pos aan Geduld by bemarking@ gmail.com vir meer inligting of om betrokke te raak.





