ROBERTSON – Die Grootuitdaagbekerliga-wedstryd tussen Robertson Town en Young Hamiltons van Worcester, wat Saterdag (1 Julie) op die Van Zylstraat-sportterrein gespeel is, het ná 80 minute van klipharde rugby nie ’n wenner opgelewer nie.
Dié kragmeting het met 32 punte elk gelykop geëindig nadat Hamiltons nie op sy agt-punt-voorsprong, wat hy rustyd geniet het, kon voortbou en in ’n sege omskep nie.
Die telling was 22-14 in die besoekers se guns toe die manne ’n blaaskans geneem het.
Die eerste 40 minute was ’n wipplankryery waarin die spanne om die beurt punte aangeteken het.
Hamiltons was vinnig uit die wegspringblokke toe sy buitesenter, Ethan Setera, die verdediging geklop en gaan druk het. Die doelskop was egter teen die linkerregoppaal vas.
Robertson het met ’n verdoelde drie teruggeslaan nadat sy woelige agsteman, Wendell Williams, gaan druk en Colin Willemse (losskakel) verdoel het.
Daarna was dit weer die Worcester-span se beurt toe sy heelagter, Garth Jacobs, swak verdediging deur Robertson uitgebuit en sy span se tweede drie gaan druk het.
Hierna het Robertson weer die voortou geneem toe sy haastige linkervleuel, Runé Lukas, ná ’n volle agterlynbeweging in die hoekie oor is. Willemse se doelskop was in die kol.
Hamiltons het hierna ’n ruk lank beheer oor die wedstryd gehad nadat hy die tuisspan se doellyn twee keer na mekaar oorgesteek het.
Eers het Setera sy tweede drie gaan druk, waarna die regtervleuel, Claudio Matolla, ook agter die tuisspan se doellyn gaan kuier het.
Setera het Matolla se drie verdoel om die rustydtelling op 22-14 in die besoekers se guns te staan te bring.
Die spanne het gaan water drink met Hamiltons op ’n agt-punt voorsprong.
Met die aanvang van die tweede helfte het Hamiltons egter ’n lelike blaps met die afskop begaan toe hy nie die bal onder beheer kon kry nie.
Dit het onmiddellik tot die tuisspan se slot, Curtly Timm, se drie gelei, wat deur Willemse verdoel is.
Timm se drie was blykbaar net die vonk wat die tuisspan nodig gehad het om sy veggees weer te laat vlamvat. Robertson was daarna begeesterd en het met mening begin terugveg.
Lukas het hierna – aangevuur deur sy span se nuutgevonde geesdrif – sy tweede drie gaan druk en Willemse het, nadat hy twee strafdoelpogings teen die doelpale vasgeskop het, met ’n derde strafskop pale toe, geslaag en die telling na 29-22 in Robertson se guns laat aanskuif het.
Robertson se vlam, wat skielik hoog gebrand het, het Hamiltons geensins laat teruggedeins nie. Trouens, die besoekers het hul eie spelpeil ’n vlak of twee gelig en met ’n tweede drie deur Matolla teruggekap.
Willemse het hierna Hamiltons se hardnekkige verdediging in die laaste minute met ’n vernuftige skepdoel tussen die pale deur uitoorlê.
Dit was waarskynlik ook ’n poging om die besoekers te ontmoedig, want die tuisspan se voorsprong het verder vergroot met die telling wat na 32-27 aangerol het.
Die Worcesteriete het egter nie stoom verloor nie. Inteendeel, Hamiltons het meedoënloos voortgeveg vir ’n moontlike sege – en baie naby daaraan gekom ook – toe Reagan Alexander, slot van die besoekers, in die doodsnikke van die kragmeting in die linkerhoek vir die gelykmakerpunte oorgeduik het.
Ongelukkig kon Setera – tot groot verligting van die tuisspan – nie met die doelskop slaag nie.
Die eindfluitjie het geblaas en die spanne het die louere ná ’n titaniese stryd 32-32 gedeel.




