VC Employee Assist en VC Studiebeurs bied eersdaags ’n gholfdag aan ten bate van huiswerkers wat daagliks hard werk om ’n blink toekoms vir hul kinders te verseker.
Die gholfdag word op 10 November by die Malmesbury-gholfklub gehou.
Philip Moolman, bekende Suid-Afrikaanse akteur en direkteur, verduidelik die beursfonds is juis tot stand gebring vir diegene wat hy as “die ware helde van die land” bestempel.
“Dit is ma’s en pa’s wat hard werk as huishoudelike werknemers om hul kinders ’n opvoeding te kan gee wat hulle self nooit as kinders gehad het nie. Hulle maak ons huise skoon, kook en sien na ons kinders en troeteldiere om, hou swembaddens blou, en versorg van tuine tot bejaardes,” brei Moolman uit ter verduideliking van die doelwitte van VC Employee Assist (VCEA) se beursfonds.
“Daar is meer as een miljoen van hierdie helde in die land. Hoe is dit vir huishoudelike werknemers moontlik om met ’n minimum loon genoeg geld vir hierdie ondankbare doelwit te spaar? Ons het met ’n oplossing gekom.
VC Employee Assist het ’n maatskappy sonder winsoogmerk, genaamd die VC Studiebeurs, gestig. Dit word ondersteun en onderhou deur korporatiewe en private beleggers sodat studiebeurse spesifiek en eksklusief aan huishoudelike werknemers se kinders of kleinkinders gegee kan word.
“Danksy die welwillendheid van die publiek en maatskappye is dié maatskappy daartoe in staat om hierdie beurs vir begaafde kinders met arm ouers aan te wend. Daar is begaafde kinders wat in huise grootword waar geld ’n groot uitdaging is. Die beursfonds stel hierdie ouers of grootouers in staat om hul kinders, wat die potensiaal het om ver te kom of drome het om dokters of tandartse te word, universiteit toe te stuur om hul drome te bewaarheid,” voeg Moolman by.
Groot pryse is tydens die gholfdag op die spel. Die dag sluit ook ’n veiling, middagete en ’n vertoning deur Moolman in.
. Skakel 066 456 3065 vir nog inligting of skryf vir die gholfdag in by info@vceabursaryfund.co.za


