’n Dag vol genade het in tragedie geëindig.
Die verhaal van dankbare ouers het die afgelope week harte op sosiale media aangegryp soos hul angswekkende ervaring op die see aan die kus van Yzerfontein oorvertel is.
Bertus Engelbrecht (43), sy vrou Dorita (39) en hul seun Christian (8) van Durbanville, saam met Dorita se pa, Otto van der Merwe (65), ’n inwoner van Yzerfontein, het Woensdag 6 Julie soos soveel keer voorheen na Dasseneiland op ’n visvanguitstappie gegaan.
Dorita vertel hulle het ná 08:00 die oggend met hul boot in gunstige toestande op die see uitgegaan. Met hul terugkeer na die hawe om 12:30 en twee geelsterte later, het die onvoorspelbare gebeur. Dorita, wat met haar man se knaende veiligheid op die water spog, vertel hoe hulle op pad terug na Yzerfontein nog oor die mooi dag gesels het, maar toe hulle Meeurots en die dolosse nader, het haar man begin stadiger ry toe hy groot branders regs van die boot gewaar. Hy het besef die boot gaan dit nie maak nie. Dorita sê hulle het soos ’n speelgoedbootjie teenoor die reusebranders gelyk. Die volgende oomblik het die boot met sy vier insittendes omgeslaan.
Sy het eerste opgekom en na die boot geswem, wat steeds omgekeer was. Haar pa het die boot tweede bereik met ’n stikkende Bertus kort daarna.
Hul eerste gedagte was die agtjarige Christian. Op daardie tydstip het die pa en oupa reeds hul baadjies en skoene uitgetrek om na die seun te soek. Met groot verligting het Christian reg langs hulle verskyn. “Hy was die heeltyd onder die boot vasgekeer – met lug,” vertel sy.
Christian was slim genoeg om te besef dat hy sy lewensreddingsbaadjie moet uittrek om van onder die boot te kon uitswem.
Hulle het elkeen daarin geslaag om op die romp van die boot te klim. Die ma het gelukkig haar foon by haar gehad, wat steeds in ’n werkende toestand was. Sy het toe haar eie ma en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) om hulp gebel. Terwyl hulle gewag het, het die boot intussen nader aan die dolosse begin beweeg, maar dit gelukkig nie getref nie. Sy het daardie tydgleuf – terwyl hulle om hulp gewag het – as “vreesaanjaend” en “yskoud” beskryf.
Volgens Junré Marais, die NSRI-Yzerfontein se stasiebevelvoerder, is Stasie 34 se bemanning omstreeks 13:00 ontplooi. Met hul aankoms het die gesin aan die romp vasgeklou. Hulle is eers na veiligheid gesleep voordat hulle op die reddingsboot gebring is. Met hul aankoms by die hawe is elkeen by die plaaslike NSRI-sentrum deur die NSRI se noodhulppersoneel vir hipotermie behandel en opgewarm. Die slagoffers is behoorlik deur omstanders bygestaan en gehelp, vertel Marais.
Die reddingsbemanning het na die boot teruggekeer en dit na die hawe gesleep nadat hulle aanvanklik probeer het om dit weer om te keer.
JC Smith, ’n plaaslike inwoner en ’n bekende gesig by die hawe wat graag sy kennis van die see met ander gedeel het, was in daardie stadium ook besig om die gesin by te staan en raad rakende die omgekeerde boot te gee. Smith het volgens ’n verklaring, wat deur die NSRI uitgereik is, egter kort daarna inmekaar gesak en sy bewussyn verloor. Ná talle pogings deur die plaaslike polisie, ’n dokter en noodhulppersoneel om hom weer by te bring, is hy dood verklaar.
Medelye het van oral ingestroom. Die NSRI het sy dankbaarheid teenoor almal wat met die reddingspoging, die slagoffers en met Smith gehelp het, uitgespreek. Die Engelbrecht-gesin het ook hul simpatie met Smith se familie op Facebook gedeel.
Bertus het benadruk hoe belangrik dit is om maandeliks tot die NSRI by te dra. “Ons doen dit al vir jare. Dit was ons beurt om deur hulle gered te word. Hulle red mense elke dag en vat baie kanse met hul eie lewe in die proses,” sluit hy af.




