Die Happy Hearts-stigting in Malmesbury, wat as deel van Sinethemba op gestremdes fokus, het verlede week ’n dubbeldoor-feesviering gehou.
Eers het hulle Donderdag ’n gradeplegtigheid gehou en Vrydag is hulle vir die dag see toe.
“Die gradeplegtigheid het gefokus op die groei van elkeen van die 19 lede vir wie dit fisiek moontlik is om ons programme in 2022 by te woon,” vertel Heylin Williams, Happy Hearts se bestuurder. “Ons het vir elke lid ’n prestasiesertifikaat gegee waarop sy of haar beste eienskappe en groei aangeteken is. Hulle het byvoorbeeld erkenning gekry vir uitstaande kuns en kreatiwiteit, leierskap, bereidheid om die ekstra myl te stap, en ons het selfs ’n ‘jack of all trades’ aangewys.
“Elke lid kon een familielid of vriend vir Donderdag se saamtrek saamnooi, maar die aard van die afsluiting was ’n verrassing. Niemand het geweet dit gaan hul gradedag wees nie!”
Om die nodige erns aan die saak te verleen, het Wesbank Sekondêr 19 togas beskikbaar gestel en Riverside Hiring het ’n Oscar-rooitapyt-fotohoekie verskaf.
Menige ouer se trane het uit dankbaarheid en trots geloop.
“Ons het dit met ons jaareindgeselligheid gekombineer, met die klem op inklusiwiteit en transformasie vir mense met gestremdhede.”
Hierdie groeplede het die Silwerstroomstrand Vrydag besoek. Saterdag, toe ’n dag vir gestremde mense wêreldwyd gevier is, was die Happy Heartslede dolgelukkig, maar moeg ná twee dae se pret, erkenning en bederf.. Hou gerus aan met die insameling van plastiekdoppies, aangesien nog twee Happy Hearts-lede nuwe rolstoele benodig.





