’n Malmesbury-vrou soek geregtigheid nadat haar geliefde Siamese kat vermoedelik aan die hand van ’n gewetenlose boosdoener gesterf het.
Janie Bothma het die verminkte karkas van haar twee jaar oue Siamese kat, Olivier of sommer Ollie, Vrydagmiddag (8 Julie) in Amandelrugstraat gevind.
Bothma het aan Swartland Gazette gesê sy vermoed iemand het haar huis dopgehou.
“Ek het soos gewoonlik 07:15 die oggend die huis verlaat en Oliver was toe nog vas aan die slaap op my bed. Daardie middag om 15:30, toe keer ek terug huis toe saam met my dogtertjie en die oomblik toe ek deur die skuifhekkie loop, sien ek daar lê Ollie se lyfie.”
Hy was onthoof. Bothma het sy karkas in ’n sak gesit en deur haar erf geloop op soek na sy kop maar kon dit nie vind nie.
Sy is toe met Ollie in die sak na die Malmesbury-dierehospitaal waar sy deur Anel-Marie Marais, bestuurder by die dierehospitaal, en die veeartse (Dylan, Anronè en Brink) bygestaan is.
Marais het aan Gazette gesê dat sy nie kon glo dat iemand so ver gegaan het om ’n kat te vermoor en die kop saam met hul te neem nie.
“Tot vandag toe, het Janie nie die kop van Oliver gevind nie,” het Marais gesê.
Volgens Bothma het een van die veeartse bevestig dat Oliver met ’n skerp voorwerp onthoof is.
Daar word ook vermoed dat hy op ’n ander plek doodgemaak is omdat daar ’n groot plas bloed sou wees indien hy in haar erf onthoof is, wat nie die geval was nie.
Sy karkas moes dus op ’n latere stadium oor haar hek teruggegooi geword het, vermoed sy.
Bothma het na die voorval ’n verklaring by die Malmesbury-polisie afgelê.
Volgens sers. Henry du Randt, ’n plaaslike polisiewoordvoerder is die saak by die polisiekantoor aangemeld maar is die verdagte nog soek.
“Geen persoon is in hegtenis geneem nie en hierdie is wel ’n moeilike saak want niemand het niks gesien gebeur nie. “Die polisie kan ook na die saak kyk as ’n demoniese daad wat gepleeg is,” het Du Randt gesê.
“Ollie was ’n baie lui kat gewees. Sy gunstelingtydverdryf was eet en slaap op my dogtertjie se bed en om in die son op die sypaadjie of muur te sit,” het Bothma gesê.
Volgens haar was Oliver ’n ongelooflike vriendelike kat en sou hy, soos ’n hond, na mense toe gaan om hulle te groet.
Bothma het intussen ’n Facebookblad, “Justice for Oliver” begin om mense wat belangstel op hoogte te hou van die saak en in die hoop om inligting te werf.
“Ek is in die proses om flyers te laat print en dit uit te gee sodat mense wat enigsins inligting het na vore kan kom, en ons die persoon / persone kan vind wat die daad gepleeg het.”
Bothma het ’n beloning uitgeloof vir enige inligting wat daartoe kan lei dat die verdagte of verdagtes vasgetrek word. Persone met inligting kan haar kontak by 083 427 0566 (bel of WhatsApp).





