Mark Moore saam met Hazel van Hazel’s Crèche. Foto: Charlotte Lesch


Die No-Stone-stigting laat gewis geen steen onaangeraak nie – veral nie in Kalbaskraal buite Malmesbury nie.

Dié organisasie sonder winsoogmerk maak ’n behoorlike verskil, sê Mark Moore, een van die stigterslede.

Moore en sy hele gesin is in 2020 sak en pak Kalbaskraal toe nadat hy ’n roeping deur God ontvang het om hulle daar te gaan vestig. Hier sou hy mense leer presies hoe om ander te help.

Dit was ’n groot sprong van sy verlede toe hy die een was wat ander gehelp het. Moore het meer as 40 jaar se ervaring in die afrigting van sport – veral bofbal op internasionale vlak. Sy vrou, Heike, was op haar beurt oor die 23 jaar by sendingswerk betrokke. Op daardie tydstip het Moore as ’n rekenaartegnikus gewerk en minderbevoorregte kinders deeltyds afgerig.

“Ons het van ’n groot huis met loopbane na ’n eenslaapkamerhuisie en geen inkomste verhuis. Toe breek Covid aan, en ek kry boonop dubbele longontsteking.”

Selfs dít het Moore nie gekeer om sy roeping voort te sit nie. “Die Here het vir my gesê ek gaan dié keer ander leer hoe dit gedoen word. Baie mense wil ’n verskil maak. Die probleem is net dat hulle nie weet wat om te doen nie. En as hulle nie weet nie, hoe gaan hulle weet hoe om dit te doen?”

Volgens Moore bestaan die bestuur agter die stigting uit ’n groep kundiges en professionele mense op verskillende gebiede, soos onderwys, sportafrigting, en mentorskap, om ’n paar te noem.

“Ons identifiseer eerste die probleem, daarna die beskikbare menslike hulpbronne, gee die nodige opleiding, laat hulle vry en gee daarna deurlopende ondersteuning aan hul projekte,” verduidelik Moore.

Hy vertel van die onstuimige pad wat hy en sy gesin sedert hul aankoms op die landelike dorpie geloop het. Moore kan egter met oortuiging vertel van die wonderwerke wat hulle intussen ervaar het.

’n Plaaslike inwoner, net bekend as Jo-Ann, bestuur reeds jare lank ’n sopkombuis, naamlik die Daily Bread Feeding Scheme, vanuit die plaaslike rugbyklub. Sy gee daagliks vir 300 kinders en 100 bejaardes kos.

Een oggend met haar aankoms was haar geriewe geplunder en besteel en honger inwoners sou binnekort opdaag om kos te kry. Moore is om hulp genader, waarna hy ’n huis geïdentifiseer het wat deur onwelkome en nie-betalende huurders beset is. Die eienaar van die huis was reeds raadop. Die besetters het binne ’n kwessie van vyf dae uit vrye wil uitgetrek, die No-Stone-stigting het die huis oorgeneem en solank alles herstel wat herstel kan word met geld wat skielik beskikbaar geword het, en Jo-Ann was op haar pos gereed om inwoners te voed.

Dit was die begin van die No-Stone House, wat nog baie veranderinge in die nabye toekoms sal ondergaan. “Dit het binne enkele dae gebeur, wat gewis ’n wonderwerk is.” Moore vertel daar ’n nasorgsentrum vir kinders word beplan, waar leerders kan kom eet en huiswerk doen. Hulle hoop om die gebou verder vir ’n behoorlike sopkombuis in te rig om mense van alle ouderdomme te kan akkommodeer.

Die No-Stone-stigting is ook vennote van die plaaslike diereskuiling, die Choclates Angels Animal Rescue, waarvoor ’n kliniek pas gebou is, asook Under His Wings Ministries, wat elkeen ’n verskil in die plaaslike gemeenskap maak.

Nog projekte sluit in ’n No-Stone Hotspot, ’n plaaslike kwekery, ’n houtwerkwinkel asook sportafrigting. Mense word selfs rekenaarvaardighede en webontwikkeling geleer.

Een projek waaroor Moore veral opgewonde is, is ene Hazel se kleuterskool, wat ná onlangse vloedskade binne ’n paar dae die nodige hulp en materiaal ontvang het om haar skool, waar sy babas oppas, op te knap en te herbou. “Nog ’n wonderwerk vir ’n engelmens,” voeg hy by.

Hoewel die meeste raadslede in Kalbaskraal gevestig is, is hulle internasionaal versprei met Heike, wat uit Nederland kom, aan die stuur van sake.. Besoek www.no-stone.org vir nog inligting oor hoe om betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article