Die Wes-Kaapse minister vir mobiliteit, Isaac Sileku, het gaste Donderdag by die N7-weegbrug oor die provinsie se padveilig­heidsveldtog vir die feestyd toegespreek. Foto: Henry du Randt


Die boodskap van die provinsiale regering aan alle padgebruikers dié feestyd, is eenvoudig: “As jy die wet oortree, gaan jy die gevolge van jou dade dra.”

Só het die Wes-Kaapse minister vir mobiliteit, Isaac Sileku, die afgelope Vrydag by die bekendstelling van die provinsie se padveiligheids­veldtog oor die komende feestyd aan gaste en besoekers gesê.

Altesaam 594 verkeers­beamptes gaan die feestyd op die provinsie se paaie ontplooi word, tesame met ’n 119 nuut opgeleide en gekwalifiseerde kadette en 294 verkeersvoertuie.

Die teenwoordigheid van wetstoepassingsdienste sal oor die feestydperk toeneem en verskerp word om hoërisikogevalle te pak.

Spoedoortredings en bestuur onder die invloed van alkohol word volgens Sileku in ’n baie ernstige lig beskou. “Dit gaan eenvoudig nie geduld word nie. Dit is baie ernstige oortredings.”

Hy het dit by die bekendstelling by die N7-weegbrug buite Moorreesburg duidelik gestel dat die veiligheid van pendelaars wat van openbare vervoer gebruik maak, sowel as dié van voetgangers, ook aandag sal geniet.

“Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor die pendelaars van die provinsie. Baie mense maak daagliks gebruik van openbare vervoer. Ons grootouers gebruik dit; ons kinders gebruik dit. Al die negatiwiteit rakende openbare vervoer moet stopgesit word. Daarom sal ons voortgaan om inspeksies op taxi’s, busse en minibusse te doen.”

Hy sê alle onpadwaardige voertuie se dienste sal onmiddellik beëindig en van die provinsie se paaie af verwyder word. “Ons gaan doen wat nodig is om te doen. Dit is ons verantwoordelikheid en ons gaan nie toelaat dat enigiets ons keer nie. Voertuie wat oorvol gelaai is, gaan ook nie toegelaat word nie,” voeg hy by.

Sileku moedig pendelaars verder aan om veiliger openbare vervoer te bevorder deur oortredings aan te meld.

Voetgangers is volgens hom van die mees kwesbare padgebruikers. “Daarom gaan ons daarop fokus om sigbare polisiëring te verskerp.”

Sileku het ook die gebruik van babastoeltjies, sitplekgordels en die toepassing van die nodige veiligheidsmaatreëls aangemoedig. “Babastoeltjies en sitplekgordels is daar om gebruik te word, want dit kan jou en jou kinders se lewe red. Dit moet nie ’n las wees nie – gebruik dit.”

Hy meen padveiligheid moet ’n onderwerp wees waaroor almal in die gemeenskap praat – van ’n kerkdiens tot by ’n braai.

“Laat ons onsself daaraan herinner agter elke statistiek sit ’n hartgebroke familie weens ’n situasie wat vermy kon word.

“Ons verantwoordelikheid as ’n regering is duidelik: Ons moet voorkeur gee aan die veiligheid van alle padgebruikers in die land.

“Ons is reeds sigbaar. Ons moet bly opvoed. Ons gaan voortgaan om te doen wat ons doen totdat almal dit verstaan,’ sluit hy af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article