Geen ernstige voorvalle is weens die afgelope week se swaar reën aangemeld nie.

Die Swartland-munisipaliteit het bevestig verskeie laagwaterbrûe in die streek het oorstroom. Inwoners word versoek om die laagwaterbrug in Kerkstraat in Malmesbury te vermy nadat dié brug reeds Donderdag oorstroom het; so ook die laagwaterbrug in Eerstelaan in Hooikraal in Moorreesburg.

Die munisipaliteit se siviele afdeling het inwoners die afgelope naweek op Riebeek-Kasteel bygestaan, waar enkele oorstromings weens gure weer plaasgevind het.

Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, hou die Darling-pad tussen Malmesbury en Darling by die Jeria-sending ’n gevaar vir motoriste in. “ ’n Dam water het op die ryvlak ontwikkel, wat gevaarlik kan wees vir voertuie wat te vinnig daardeur ry,” het Filander verduidelik.

Motoriste word versoek om teen ’n lae spoed in dié gebied te ry en versigtig te wees.

’n Voertuig is Vrydag by die laagwaterbrug op die Soutdam-pad in die omgewing van Rooihoogtevlei tussen Malmesbury en Darling meegesleur nadat dié brug verspoel het.

Geen ernstige beserings is aangemeld nie, maar motoriste word gevra om alternatiewe roetes te gebruik.

“Ligte voertuie word weens die modderige toestande aangeraai om die Moorreesburg-Darling-pad te vermy,” voeg Filander by.

Kapt. Marko Heydenrych van die Malmesbury-polisie het op sy beurt genoem hoe dankbaar hulle is dat geen ernstige voorvalle in die omgewing van Malmesbury weens die gure weer tot dusver aangemeld is nie.

Volgens ’n plaaslike boer, Hentie Smit, is die produsente oor die algemeen dankbaar vir die reën, hoewel die gure weer wel die praktiese sy van ’n boerdery beïnvloed.

Die nat toestande veroorsaak dat kunsmisstrooiers in hierdie stadium nie die lande kan binnegaan nie, het hy verduidelik. Lande spoel ook op sommige plekke toe, wat dit moeilik maak om by die onkruid uit te kom. “Ons sal sowat twee weke ná die reënweer moet wag voordat kunsmis gestrooi kan word,” voeg hy by.

Produsente wend hulle tans na vliegtuie as ’n alternatief om kunsmis op die grond te kry, maar volgens hulle raak die waglys taamlik lank namate reënweer voortduur. Baie vliegtuie is in hierdie stadium ook in die Suid-Kaap bedrywig, wat die wagtydperk verder verleng.

Volgens die Kaapse weerdiens toon die langtermyn-reënvaldata op Langgewens-proefplaas tussen Malmesbury en Moorreesburg ’n jaarlikse gemiddelde van 379,9 mm vir die tydperk tussen 1994-2021. Die langtermyn- gemiddelde reënvalsyfer in Mei is 49,6mm en 73,7mm vir Junie. Reënvalsyfers wat die afgelope week tussen 13 Junie en 18 Junie deur die weerdiens in Malmesbury gemeet is, toon ’n reënvalsyfer van 58,4 mm.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article