’n Fotograaf van Nqubela in Robertson, wat sy grootwordjare in Worcester deurgebring het en deesdae in die Kaap werk, is een van vyf digters wie se skryfwerk binnekort in ’n digbundel verskyn.
Timothy Kasha (33), ’n fotograaf en kameraverkoopskonsultant in Kaapstad en wat sy skoolloopbaan in Worcester voltooi het, is direk ná skool saam met sy pa en broers na Robertson vir sy pa se nuwe werk. In hierdie tyd het hy baie gedigte geskryf oor sy depressie, sy vriendekring se sy konstante geknel met drank en dwelms, asook sy ma se dood in sy matriekjaar.
“Ek het dit nie altyd maklik gehad nie. My pa het alles vir ons probeer doen en my ma was my held. Toe sy aan borskanker oorlede is, het my wêreld tot stilstand gekom. Ek het deurmekaar gevoel en my skryfwerk is al wat ek gehad het.”
Hy het altyd ’n klein notaboekie by hom – op skool, by die huis en selfs by die werk. “As die inspirasie my beetkry, moet ek dit neerpen.”
Kasha verduidelik dat sy ma altyd vir hom as kind stories gelees het en op skool het hy ’n besondere liefde vir Afrikaans gehad.
“Afrikaanse gedigte het my altyd geroer. Dit is my tweede taal, maar het sommer vinnig my eerste taal geword. Stories word net soveel beter in Afrikaans vertel,” voeg hy by.
Met gedigte getiteld “Moedersmelk”, “My Afrika”, “My Wortels” en “Die eensame prins van die Boland” het Kasha sy gedigte vir die “MyAfrica Writing and Poetry”-kompetisie, wat verlede jaar aanlyn gehou is, ingeskryf.
“Ek het nie veel verwag nie. Ek wou net my skryfwerk uitkry en meer leer. Ek het op ’n dag ’n oproep ontvang en hulle het gesê vier van my gedigte gaan in ’n bundel opgeneem word. Dit is steeds so groot eer.”
Hierdie boek sal na verwagting aan die einde van die jaar aanlyn uitgereik word en het ’n klomp jong talent van oor die hele Suid-Afrika heen wat ook daarin sal pronk.
“Ek wil baie graag eendag my eie digbundel uitbring en publiseer. Ek wil ook vir ander mense wys drome kan waar word, en as jy die tyd insit, sal jy gewis goeie sukses kry. Ek doen dit vir my ma, my pa en my twee broers. Sonder hulle is ek niks.”





