Chestville Hanekom in aksie tydens ’n rugbywedstryd.


Die 28-jarige Chestville Hanekom, ook bekend as “Chessie”, vleuel van die Flying Eagles-rugbyklub, is verlede Saterdag (13 Augustus) dood nadat hy op die R45 naby die plaas De Grendel deur ’n voertuig raakgery is. ’n Gedenkdiens is Sondag (21 Augustus) by die sportterrein in Alfastraat, Wesbank, gehou.

Volgens sers. Henry du Randt, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is die polisie omstreeks 17:45 na die ongelukstoneel, waar ’n voetganger deur ’n onbekende voertuig raakgery is, ontbied.

Die voetganger, wat later as Hanekom geïdentifiseer is, is op die toneel dood.

Omstandighede rakende die voorval word nog ondersoek.

Volgens du Randt verlang die Malmesbury-polisie inligting in dié verband en vra die publiek se hulp.

Enigiemand met inligting oor die ongeluk word gevra om sers. Mario Banha by 022 482 7500 te bel.

Gaylinth Hansen, ontwikkelingsafrigter en ondervoorsitter van Flying Eagles, sê Hanekom was altyd vriendelik en bedagsaam.

“Ek het hom in 2019 by voorseisoen-oefeninge ontmoet, waar hy my verbaas het met sy spoed en vaardighede. Hy het in Januarie die Wesbank 7’s-toernooi aan die brand gespeel en baie toeskouers se aandag getrek,” onthou Hansen.

“Hy was ’n staatmaker en hardwerkende speler,” sê hy.

Volgens Hansen kon Chessie beide die posisie van linker- en regtervleuel speel en hy was die span se geheime wapen.

“Min mense het geweet dat Chessie ’n goeie spoed gehad het, wat hom die perfekte speler vir nommer 13 kon maak, maar sy amptelike nommer was 14,” sê Hansen.

Hansen het sy medelye met die Hanekom-familie betoon en hulle sterkte toegewens met hul groot verlies.

“Die rugbygemeenskap het ’n groot, talentvolle speler verloor. Die lewe is so kort, so laat ons gemeenskapsleiers ekstra moeite doen om tyd aan ons jeug te bestee,” moedig hy aan.

Hansen sê danksy die nuwe ontwikkelingstelsel sal een van sy medespelers Chessie se rol oorneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article