Die Skaapstudiegroep van Agri Malmesbury het Vrydagoggend (19 Augustus) sy 40ste jaarlikse kudde-evaluering by die Malmesbury-skouterrein aangebied.
John Durr, voorsitter van die Skaapstudiegroep, sê die hoofdoel was om kuddes met mekaar te vergelyk deur groepies van 50, wat intussen weens Covid na 10 verminder is, bymekaar te bring en te laat evalueer deur onafhanklike kundiges in die skaapbedryf en ’n kompetisie binne drie skaaprasse – Merino, SA Vleismerino en Dohne Merino – te hou.
“Terselfdertyd word inligting uitgeruil tussen boere en kundiges, tesame met nuwe tegnologie en nuwe praktyke, wat tot die verbetering van die kuddes se wol- en vleisproduksie kan lei. Die meeste van hierdie doelwitte is behaal deur deelnemers wat tans nog deelneem,” verduidelik Durr.
Durr sê egter baie deelnemers het die skaapbedryf verlaat, hoofsaaklik weens die impak van veediefstal en in ’n mindere mate die afgelope droogte, en dit word in die huidige hoë vleispryse weerspieël.
Volgends Durr het meer as 60 leerders van vier skole en studente van Elsenburg vanjaar die dag bygewoon en waardevolle blootstelling gekry. ’n Besluit is vroeër geneem om skoolleerders en landboustudente by die dag in te sluit as ’n manier om die dag verder uit te bou.
“Ons het begin om skoolleerders en landboustudente, wat landbou as vak neem, te nooi om lesings oor dieresiektes, wolproduksie en vleisgradering asook die hantering van skape by te woon,” verduidelik Durr.
Hy sê die kudde-evaluering en gepaardgaande aktiwiteite is ’n belangrike geleentheid om gemeenskappe bymekaar te bring en die dag saam te geniet.
“Die karkasse van lammers wat aan ’n slaglam-kompetisie (ook deel van die kudde-evaluering) deelneem, word aan die publiek op ’n veiling aangebied en ook hiér word waardevolle inligting uitgeruil en vordering gemaak.”
Met Vrydag se reën kon die skaapskeerkompetisie nie voortgaan nie omdat die wol nog nat was.
Volgens Durr was hierdie die eerste geleentheid sedert die begin van die Covid-19-pandemie, waar ’n groot groep plaasboere, jongplaasboere, plaaswerkers en leerders van verskeie skole bymekaar kon kom. “Vanjaar het ons ook die geleentheid gehad om die vroue, wat die afgelope 40 jaar ’n belangrike rol gespeel het, erkenning te gee,” sê hy.




