Ethan Adams (17), ’n gr.11-leerder aan die Langeberg Sekondêre Skool, gaan oorsee.

Credit: SYSTEM

Ethan Adams (17), ’n inwoner van Robertson en ’n gr.11-leerder aan die Langeberg Sekondêre skool, se sokkervaardighede het hom ’n plek op die vliegtuig na Swede verseker waar hy dié land beter gaan verken en aan sy sokker-tegniek sal skaaf.

Adams is ’n lid van die Nexus-sokkerklub in Robertson en is tydens proewe in Kaapstad deur die BT-sokkeragentskap gekies om Swede te besoek en dalk ’n kans sal kry om vir een van Swede se sokkerklubs te speel.

Volgens Darryl Meintjies, Nexus-sokkerklub se afrigter, gaan Adams Swede van 10 tot 20 Januarie verken en saam met klubs speel waar hy dalk gekies sal word om permanent vir een uit te draf.

Hoewel Adams eers in Januarie 2024 vertrek, is dit noodsaaklik vir hom om reeds nou die geld in te samel omdat die toer teen Desember ten volle betaal moet wees.

’n Groot bedrag van R45 500 moet opgedok word vir sy oorsese avontuur, waarvan hy reeds R10 500 ingesamel het deur geldinsamelings te reël, het Adams, ’n absolute sokkerliefhebber, telefonies verduidelik.

Meintjies het gesê “hy [Adams] is baie opgewonde om te gaan”.

“Maar hy is ook bang en gestres omdat hy dalk nie genoeg geld kan insamel nie,” volgens Meintjies.

“Sy ma is ’n enkelouer, en sy suster is die broodwinner in die huis,” het Meintjies vertel.

Hy het verduidelik dat die familie nie genoeg geld het vir die toer nie, en op die gemeenskap staatmaak om by te dra deur geldinsamelingsprojekte te ondersteun.

’n Sokkertoernooi word op 23 en 24 September aangebied.

Die toernooi word deur die Nexus-sokkerklub gereël as deel van nog ’n geldinsamelingsprojek vir Adams.

Volgens Adams speel hy reeds van laerskool af sokker en is al vier jaar by Robertson se Nexus-sokkerklub betrokke. Hy sien baie uit na sy avontuur in Swede omdat hy “nog altyd oorsee wou gaan”.

Die Langeberg Sekondêre Skool het onlangs ook sokker as ’n skoolsport begin aanbied, waarin hy ook speel.

Volgens Adams is dit sy droom om “eendag” vir Liverpool te speel.

Adams het ook verduidelik dat Virgil van Dijk, wat vir die einste Engelse sokkerspan speel, sy rolmodel is en dat die spelers by sy tuisklub hom as “Van Dijk” gedoop het.

Indien enigiemand ’n skenking wil doen, kan Adams by 063 872 3945 gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article