“My ouma het altyd gesê ’n mens moet uitkyk waar jy ander kan help, en dis presies wat ek nou doen,” verduidelik Esmerelda (Daizy) Williams van Malmesbury oor waarom sy die Princess Project bedryf. Dit is ’n projek waarmee sy behoeftige skoolleerders met matriekafskeidsklere help.
“Ons kerkwyk is betrokke by ’n plaasuitreik buite Malmesbury en dis waar ek besef het party kinders het geen hoop om die geld bymekaar te skraap vir ’n rok, ’n pak klere of skoene vir hul matriekafskeid nie.”
Esmerelda het versigtig begin voelers uitsteek om die nodige klere, handsakkies, krale of oorbelle te versamel. “Ek het geleer ek moet vra! Maar: Ek vra nie net nie – ek doen ook self baie om te help.
“Ek sê vir matrikulante ek help so ver moontlik, maar ek kan nie alle drome 100% bewaarheid nie. Ek doen ook nie tafels (die vooraf-fees voor ’n kind matriekafskeid toe vertrek) nie.”
Esmerelda staan matrieks sedert 2016 op hierdie manier by – plaaslik en selfs ook in Mitchells Plain en Citrusdal. Sy het by buitedorpe betrokke geraak omdat sy mense ken wat daar woon.
“Ek vra meisies om die rok wat ek verskaf, te laat droogskoonmaak voordat sy dit terugbesorg. Dis haar bydrae nadat sy reeds klere en bykomstighede gratis ontvang het.
“Droogskoonmaak is vir sommige gesinne ’n groot uitgawe, maar meestal is dit vir hulle ’n eer om self daarvoor te sorg. Dikwels bring hulle ook dankie-geskenkies soos sjokolade saam.”
Esmerelda ry soggens halfses stad toe vir haar werk as senior klerk by Eskom – ’n pos wat sy daagliks voluit aanpak. Dikwels kom sy eers 18:30 tuis, maar steeds maak sy tyd om kinders wat geen hoop op ’n matriekafskeid het nie, te help.
Hoe loop die logistiek as sy sulke lang ure uitstedig is? “My skoonma, wat by ons woon, is my ‘persoonlike assistent’; sy laat dinge glad verloop,” glimlag Esmerelda.
Esmerelda het by haar ouma Gwen Philander in Mamre grootgeword. “Ek sien myself as ’n ‘ouma-kind’. Die lewe was maklik en sag op my. Ek het nooit honger gaan slaap of pak gekry nie; ek het nooit met kwade gevoelens rondgeloop nie. Ek pak nou hierdie projekte uit dankbaarheid aan en ek hanteer alles vertroulik.”
Esmerelda doen baie moeite om ’n gelukkige omgewing te skep waar sy ook al beweeg. “By ons werk sit ek die Kersboom al in die middel van Oktober op, en ek skep ’n verwagting vir iets vroliks. Uiteindelik is my kollegas die grootste ondersteuners van die Princess Project.
“Intussen leer ek so baie van mense se geaardhede en van hul lief en leed – en van laasgenoemde is daar baie!”
Op 47 is sy ’n trotse ouma van ’n kleinseun. Sy is in 2010 getroud met Alvairo Williams, ’n Malmesbury-rugbyspeler wat herstel het ná ’n ernstige rugbybesering waarin sy nek gebreek is. “Die Here het hierdie man op my lewenspad gesit.”
Wil jy dalk Esmerelda ondersteun om matrieks sonder hoop te help? Kontak haar by 076 190 5111.. ‘Mense wat inspireer’ is ’n nuwe reeks artikels wat handel oor gewone mense wat in hul daaglikse bestaan dinge op so ’n manier doen dat dit ander inspireer. Dikwels besef hierdie mense nie eens dat hulle ware inspireerders is nie.


