Worcester se HEX-BESS, waarby onder meer Robertson, Ceres, De Doorns, Rawsonville, Touwsrivier en Villiersdorp gaan baat, is goed op dreef.Foto: Verskaf


Eskom is besig om groot vordering met HEX-BESS, die reuse nuwe Eskom-battery-energiebergingsisteem op Worcester te maak, wat gebergde elektrisiteit op die nasionale elektrisiteitsnetwerk beskikbaar sal stel.

Eskom het vir Breedevallei-munisipaliteit in Junie 2022 meegedeel Worcester is een van 13 plekke in Suid-Afrika wat deur Eskom gekies is om die “Battery Energy Storage System” te bou.

In die Wes-Kaap is daar net ses sulke batterye wat opgerig gaan word en die “Hex Battery Energy Storage System” (HEX-BESS) is die een wat op Worcester gebou word.

Hierdie projek is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en die tegnologie is so gevorderd dat ’n Suid-Koreaanse maatskappy, Hyosung Heavy Industries, deur Eskom vanuit die buiteland gekontrakteer moes word om dié battery te bou.

HEX-BESS het ’n tweeledige doel, te wete: (1) om die gebruik van hernubare energie te bevorder; en (2) oortollige elektrisiteit buite spitstyd op te vang en te stoor en vir hergebruik tydens spitstyd op die nasionale elektrisiteitsnetwerk beskikbaar te stel.

Dié battery is by die Hexsubstasie in die Worcester-nywerheidsgebied op ’n oop stuk grond aan die agterkant van HexTex. Toegang na daardie gebied is deur Louis Langestraat, verby Rainbow Chickens se fabriekswinkel en Peninsula Beverages (die nuwe Coca Cola-fabriek).

Die projek se koste beloop R1,2 miljard en finansiering hiervoor is deur Eskom van onder meer die Wêreldbank bekom. Altesaam 70% van die koste was vir die aankoop van die battery en 30% van die koste vir die konstruksie van dié battery.

Indien alle toetse suksesvol is, word gehoop HEX-BESS sal in Augustus of September vanjaar in werking gestel word.

Dié battery gebruik “Vaste toestandbattery, lithium-ioon” (Solid State Lithium-Ion), ’n tegnologie wat dus nie van elektroliete gebruik maak om homself te herlaai nie. Dié battery word herlaai wanneer elektrisiteit vanuit die nasionale elektrisiteitsnetwerk daarop ingevoer word.

Die battery sal dus buite spitstye homself met al die oortollige elektrisiteit op die nasionale ekektrisiteitsnetwerk laai en daardie energie stoor, om dit dan op ’n latere stadium vry te stel wanneer daar ’n hoë vraag na elektrisiteit is. Wanneer HEX-BESS in werking is, sal dit in staat wees om 20 MW vir ’n vyf-uur-tydperk op die elektrisiteitsnetwerk vry te stel.

Die energie wat op die HEX-BESS-battery gestoor word, sal buite spitstyd op Eskom se nasionale elektrisiteitsnetwerk teruggestoot word.

Die HEX-BESS-battery is spesiaal by die Hexrivier-elektrisiteitsubstasie gebou om verligting by daardie baie belangrike substasie te bring wat ’n hoë elektrisiteitsvraag het en onder meer elektrisiteit aan Ceres, De Doorns, Rawsonville, Robertson, Touwsrivier en Villiersdorp voorsien.

Wanneer die vraag op nasionale elektrisiteitsnetwerk laag is, sal dié battery herlaai. Eskom gaan self die beheer oor die battery se herlaai volgens ’n skedule toepas.

Worcester is uiters bevoorreg om een van die eerste ses van hierdie batterystelsels te bekom wat Eskom in die Wes-Kaap bou, en almal hoop die laaste paar weke se afhandeling van hierdie projek sal voorspoedig verloop.

.
Raadslid Julian Kritzinger is Burgemeesterskomiteelid vir Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling, Toerisme, Kuns en Kultuur van die Breedevallei-munisipaliteit

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article