By die onlangse Derde Dinsdag-byeenkoms vir entrepreneurs en kleinsakeondernemings was (van links) Daniël Pienaar (Pienaar Solutions), Ohna Nel (Malmesbury Sakekamer), Yonela Mneno (Ndiyazazi – I am Enough-stigting), Adri Jacobs (Swartland Toerisme) en Kobus Rossouw (voorsitter: Malmesbury Sakekamer). Foto: Sarie Nell


“Alles begin met ’n droom. Kom ons vat hande en ontwikkel ’n visie om die ekonomiese landskap in die Swartland te verbeter.”

Só het Jo-Ann Krieger van die Swartland-munisipaliteit (SM) tydens die onlangse Derde Dinsdag-byeenkoms in Malmesbury gesê.

Derde Dinsdag is ’n inisiatief van Malmesbury Sakekamer en fokus op die belange van entrepreneurs en eienaars van kleinsakeondernemings.

Krieger, die direkteur van ontwikkelingsdienste by die SM, het die kollig geplaas op haar departement se fokus op die ontwikkeling en bemagtiging van die streek se entrepreneurs.

Die SM se navorsing oor uitdagings wat entrepreneurs in die gesig staar, het die volgende probleme uitgewys – ’n verouderde databasis van kleinsakeondernemings; ’n gebrek aan leierskap- en entrepreneursvaardighede asook gebrekkige sakeopleiding; onkunde met die opstel van sakeplanne en prosedures rakende tenderprosesse, onnodige beslommernisse (red tape) met aansoeke om finansiering en ondernemings se registrasieproses, soms beperkte toegang tot tegnologie en infrastruktuur plus die rol wat misdaad tans speel.

Met die einddoel om ’n groeiende ekonomie in die Swartland te skep waar almal oor ’n werk en die nodige vaardighede beskik, het verdere navorsing gevolg. Uiteindelik het 86 voltooide vraelyste – deur 47 mans- en 39 vroue-entrepreneurs – die SM gehelp om insig te ontwikkel oor deelnemers se profiele in terme van ras, registrasie op die sentrale databasis (kon entrepreneurs dit selfstandig doen, of benodig hulle hulp?), wat hul omset is, hoe lank hulle reeds sake doen, uit watter struktuur sake bedryf word en op watter maniere hulle hul dienste adverteer.

Net 39 ondernemings was reeds geregistreer, 11 is besig daarmee terwyl 27 hulp benodig.

Altesaam 21 ondernemings word uit huise bedryf en meestal vind bemarking deur sosiale media plaas. Sommige is al 11 tot 16 jaar aan die gang.

Oor die belangrike vraag rakende omset, het Krieger verklaar: “Mense kan nie met ’n welsynsbenadering in ’n sake-opset inkom nie!”

Tans fasiliteer die SM gereelde opleiding ten einde gehalte-ondernemings te verseker; hulle beplan ook ’n indaba met pryse ter aanmoediging.

Krieger het verwys na die elektroniese portaal wat sedert die pandemie beskikbaar is, asook die belangrike rol wat mobiele Thusongsentrums in omringende Swartlandse dorpe speel met raad, hulp met registrasie asook verdere navorsing.

Krieger het ter afsluiting verwys na die nuwe Mall met sy meer as 500 werksgeleenthede en ’n beroep op entrepreneurs gedoen dat almal hande vat en uitdagings saam aanpak. “Sodra ons as ’n span saamwerk, kan ons die ekonomiese landskap verander.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article