Die Wes-Kaapse departement van landbou moedig alle inwoners van Malmesbury aan om hul vierpotige vriende vandag (Dinsdag 11 Julie) teen hondsdolheid te gaan inent.
Die departement se veeartsenydienste het onlangs ’n hondsdolheid-veldtog van stapel gestuur waartydens alle honde en katte gratis teen hondsdolheid ingeënt kan word.
“Hondsdolheid is ’n gevaarlike -en noodlottige siekte van alle warmbloedige diere en mense, wat hoofsaaklik oorgedra word wanneer ’n aangetaste dier jou byt,” verduidelik Janica Chapman, dieregesondheidstegnikus by die departement se veeartsenydienste in Malmesbury. Die inenting van troeteldiere teen hondsdolheid is die doeltreffendste manier om troeteldiere en mense teen blootstelling aan dié dodelike virus te beskerm, beklemtoon die departement. ’n Moontlike positiewe geval van hondsdolheid is by ’n bakoorjakkals in die omgewing van Malmesbury geïdentifiseer maar daar word nog op die uitslae gewag. ’n Kaart van waar hondsdolheid in die Wes-Kaap voorkom, toon dat die virus in die omgewing van die Swartlandstreek teenwoordig is en ’n gevaar vir plaaslike diere en inwoners inhou.
Suid-Afrika is ’n verklaarde hondsdolheid-gebied. Die departement raai daarom aan dat alle honde en katte ingeënt moet word sodra hulle die ouderdom van drie maande bereik.
Inwoners wat Maandag die geleentheid misgeloop het om hul honde en katte te laat inent, kan hul vierpotige vriende vandag (Dinsdag) van 09:00 tot 12:00 na die oop veld oorkant die kantoor van die munisipale wetstoepassingseenheid in Wesbank vir inentings neem, asook van 12:00 tot 15:00 by die Wesbank-sportsentrum en van 10:00 tot 15:00 by die Thusong-sentrum in Ilingelethu.
Die departement versoek dat alle honde wat vir die inenting geneem word, aan ’n leiband moet wees. Katte moet verkieslik in ’n mandjie gebring word sodat die eienaar beheer oor hul troeteldier kan behou.
Bel Janica Chapman by 084 969 8550 of 022 433 8910 vir nog inligting.





