’n Bekende in die gemeenskap, Koos (Kosie) du Toit, is verlede Maandag oorlede as gevolg van die newe-effekte van die chemobehandeling wat hy vir kolonkanker ontvang het.
Volgens du Toit se vrou, Cindy, is kanker in April by hom gediagnoseer. Hy het op 22 Mei met chemo begin.
“Hy is nie dood weens die kanker nie, maar weens ’n ensiem-tekort wat die newe-effekte van die chemoterapie-bestanddele erger gemaak het.”
Hy was een van min mense wat aan hierdie tekort gely het. Dit veroorsaak dat die chemoterapie-bestanddele in die liggaam opbou, wat dan ander newe-effekte veroorsaak.
Sy onthou haar man as ’n gesinsman en mense-mens.
“Hy het altyd almal bo homself geplaas. Hy sou sy laaste sent vir iemand gee. Hy sou tot sy onderbroek vir iemand in nood gee,” vertel Cindy snikkend.
Verder sê sy haar man was baie betrokke in die gemeenskap.
“Hy was baie lief vir mense en was oor die jare baie betrokke by verskillende projekte in die gemeenskap.”
Sy sê ook hy was altyd baie positief.
“Hy het selfs in die hospitaal nog grappe gemaak. Hy was een van drie mense in Suid-Afrika met die ensiem-tekort wat die erge newe-effekte van die chemo veroorsaak het, en selfs toe het hy steeds gespot dat hy spesiaal was. Hy was altyd ’n baie positiewe mens.”
Die chemoterapie het sy slukderm, ingewande en mond so erg aangetas dat hy skaars kon eet of praat. Hy het uiteindelik aan septiese skok gely. Hiervoor het hy verskeie medikasie gekry en behandeling in die noodeenheid ondergaan, maar is verlede Maandag om 02:00 oorlede.
Du Toit en sy vrou besit die Goudmyn- River Chalets al 15 jaar. Hy was ook in beheer van die gemengde boerdery op die Goudmyn plaas.
Die paartjie was 17 jaar getroud. Hulle het ’n dogter (10 jaar oud) en twee seuns van 13 en 15.
“Die kinders is so oukei soos hulle kan wees. Dit ruk ’n mens mos maar so by tye. Dis maar erg vir hulle. Hul pa was hulle alles; hulle het baie tyd saam deurgebring en hulle was veral lief daarvoor om saam met hul pa te gaan jag. Dis maar moeilik vir ons almal.” . ’n Gedenkdiens word Vrydag (23 Junie) by die NG Kerk Ashton gehou.





