’n Plaaslike onderneming in Malmesbury kom tot die redding van die Wes-Kaapse mediese nooddienste (EMS).
Wilhelm Louw, die plaaslike bestuurder van Malmesbury EMS, verduidelik met groot dankbaarheid hoe Theron’s Onderdele dit vir die provinsiale nooddienste se reddingspan ná vier jaar weer moontlik gemaak het om met gespesialiseerde opleiding voort te gaan.
Louw, wat reeds 27 jaar in die ambulansdiens is, vertel hoe krities belangrik reddingstegnici in die mediese nooddiensveld is.
Een van die gespesialiseerde velde is onder meer reddingstegnici in die afdeling swaar voertuie, asook lugvaart, seevaart, nywerheid en landbou tot tegnici in touwerk. Hy verduidelik dat dit ’n spesifieke rigting is waarin EMS-personeel verder in kan spesialiseer.
Die Nood Mediese Dienste van die Wes-Kaapse Metro het vir die afgelope vier jaar nie daarin geslaag om die module wat handel oor die spesifieke veld van swaar voertuie soos vragmotors en busse, te voltooi nie. Volgens Louw, kon niemand in die provinsie hulle help nie. Hy voeg by dat dit te verstane is aangesien dit mense se brood en botter is.
Danksy Theron’s Onderdele, het 14 studente van reg oor die hele Wes-Kaap, asook ’n plaaslike reddingstegnikus, verlede Maandag met hul module in swaar voertuie op Malmesbury afgeskop. Vragmotor-wrakke, asook een van hul persele is vir die jaar vir die doel beskikbaar gestel. Louw vertel dat hulle op oud en nuwe modelle werk. “Hier is verskillende vragmotors, verskillende enjins, verskille kajuite en onderstelle. Hier is ook verbasend baie voertuie waarop sommige reddingswerkers in die verlede op ongelukstonele gewerk het, wat dit ideaal maak vir praktiese opleiding.”
Hy verduidelik verder dat reddingstegnikuste wat die reddingskursus voltooi het, nie voorheen dié module kon voltooi nie. Noudat daar hulpbronne beskikbaar gestel is, was die hele provinsie genooi vir die gespesialiseerde opleiding in swaar voertuie. “Altesaam 10% van die bedryfspersoneel in die provinsie het die modules gedoen wat hulle dan reddingstegnici maak. Uit daardie 10% het sowat 7% hierdie module voltooi,” sê Louw. Hulle hoop om dié wat nie die module kon voltooi nie weens ’n agterstand terug te nooi. “Hulle kan met dié kennis ’n beter diens lewer.”
Die studente is onder meer opgelei om mense wat in ’n swaar voertuig in ’n ongeluk was, te bevry. “Baie aspekte daarvan moet in ag geneem word.”
Charle Nieuwhoudt, reddingsbestuurder van die Weskus-distrik, sê dié veld is uniek, maar ook intensief.
Reddingstegnici moet alles van byvoorbeeld die vragmotor af weet – van hoe om ’n gloeilamp uit te draai tot die chemiese aspek daarvan. “Swaar voertuie het meer brandstof en olie en vervoer soms vreemde chemikalieë.”
Nieuwhoudt, Neville van Rensburg, (provinsiale bestuurder van Metro EMS-Redding) en Michelle Kings van die opleidingspan van die EMS College of Emergency Care by die Tygerberg-hospitaal, was teenwoordig. Volgens Van Rensburg is dit inderdaad ’n unieke veld om in te spesialiseer. Hy is langer as 30 jaar in die diens en was telke male oorsee om die nuutste opleiding en tegnieke terug na Suid-Afrika te bring.
Louw weet leerders stel belang in die ambulansdiens, maar baie weet nie wat die beroep behels nie. “Jy kan vir vier jaar gaan leer en jou mediese opleiding ontvang, gevolg deur gespesialiseerde velde. Wiskunde en skeinat is ’n vereiste.




