’n Paartjie van Robertson, wat in November albei hul 70ste verjaarsdag gevier het, het die afgelope naweek ook hul 50ste huweliksherdenking gevier.
Louise en Manie Steyn is op 30 November 1972 in ’n klipkerk in die Oos-Kaap getroud. Hul het met R350 al hul gaste gevoed, hul trouklere gehuur en geld oorgehad vir die wittebrood.
“Dinge was toe gewis anders. Alles was veral goedkoper,” vertel Manie aan Gazette.
Hy en Louise het mekaar in Port Elizabeth ontmoet toe hulle albei 17 jaar oud was, en sê dit was “liefde met die eerste oogopslag”.
“Die tannie is al die jare al so mooi. Haar oë het my gevang en haar mooi hart het my gehou. En hier is ons nou, 52 jaar later, waarvan ons 50 jaar getroud is, en al wat ’n mens kan wees, is nederig dankbaar.”
Hulle is ná skool vir ’n paar maande uitmekaar toe Manie sy diensplig in 1970 gedoen het en Louise na die onderwyskollege op Wellington is.
“Hy het aan die begin van 1972 klaargemaak, maar ek sou nog ’n leeftyd vir hom gewag het as dit moes. In vandag se tyd is daar selfone en die internet, maar ek moes staatmaak op ’n brief. Dit kon weke neem om van hom te hoor. Natuurlik was ek bekommerd oor sy veiligheid, maar ek was meer bekommerd oor myself. Ek het reeds ’n toekoms vir ons saam gesien,” verduidelik Louise.
Manie is toe ook Wellington toe, waar hy by sy oom se regsfirma begin werk het. In Mei 1972 het hy haar gevra om te trou, en paar maande later het hulle die knoop deurgehak.
“Ek het my studies pas voltooi en toe verhuis ons Pretoria toe. Ek het daar begin werk, en Manie het by die poskantoor ingeval. Ons het ons lewe in Pretoria gevestig, langer as drie dekades daar gewerk en vier kinders in die wêreld gebring.”
Die paartjie het egter in 2011 besluit hulle wil terug na die Boland en het ’n aftreeplekkie in Robertson gekoop.
“Ons dogter en skoonseun woon hier, asook twee van ons kleinkinders. Ons ander seun is in Pretoria, en die res woon oorsee. Ons het nou al ses kleinkinders, en dit voel of ons by die dag net meer raak,” skerts Louise.
Manie verduidelik die resep tot ’n gelukkige huwelik is eintlik maklik.
“Respek – alles word gebou op respek. Jou tiende huweliksherdenking is ’n groot skok. Jy dink terug en besef 10 jaar het verbygevlieg. Ná 20 jaar besef jy dinge is nou eintlik ernstig. Op 30 jaar voel dit al soos ’n leeftyd, en by jou 40ste herdenking wonder jy – hoeveel nog? Maar op ons 50ste huweliksherdenking het ek na die tannie gekyk en besef ek sal haar enige dag weer kies om mee te trou.”



